Net ná oopmaaktyd hou die polisievangwa in ’n rooi stofwolk voor die Boerewinkel stil. ’n Vriendelike konstabel stap die winkel binne. “Goeiemôre, almal. Ek is konst. Alie Kruger.”

Die bestuurder stap glimlaggend na vore en steek sy hand uit: “Baie welkom, jong man, noem my sommer oom Bossie. Dis ’n groot plesier om so ’n gawe kêrel in ons boeregemeenskap te verwelkom. Kom ek stel jou aan die res van die personeel voor.”

My kantoortelefoon lui. Ek spring vir eers die voorstellery vry. Toe ek die telefoon op die mikkie terugplaas, staan oom Bossie met Polisieman in my kantoor. “En dis nou ons boekhoudstertjie, Susan.” Gretig omklem twee rowwe hande my regterhand. Hy glimlag breed.

“Eina! Deksels! Is dit nou nodig om met soveel krag met my kennis te maak?” snou ek hom toe.

“Eina! Deksels! Is dit nou nodig om met soveel krag met my kennis te maak?” snou ek hom toe.

“Aangename kennis, Susan. Ek moet jou sommer dadelik komplimenteer met jou pragtige bos rooi hare. Is dit waar dat ’n rooikop so ’n rissiepit kan wees?”

Vir ’n oomblik gluur ek hom aan, aarsel ’n bietjie. “Kan jy nie ordentlik bestuur nie, konst. Alie? Hier op ons dorpie parkeer ons stadig en trek stadig weg sodat die rooi stof nie in almal se oë opwaai nie.”

Oom Bossie lag te heerlik en gaan voort: “Behalwe vir al die geldsake, is Susan ook in beheer van die ammunisie wat ons mag verkoop.”

“O, dan sal ek eersdaags ’n besoek aan jou moet bring om die ammunisie en registers na te gaan, Susan.”

Ek sien duisend duiweltjies in sy blou oë glinster. Ek dog nog dis ’n grap, maar twee dae later hou hy baie versigtig, sonder ’n stofwolk, in die vangwa voor die Boerewinkel stil. Hy groet almal en stap reguit deur na my kantoor. “Ek kom die ammunisievoorraad nagaan,” lig hy my “amptelik” in. “Dis nog nooit voorheen gedoen nie, Konstabel.”

“Rissiepit, dit is een van my pligte!”

“Rissiepit, dit is een van my pligte!”

Die verwaande vent! Ek gaan roep oom Bossie. Tot my ontsteltenis bevestig hy dat die SAP wel die reg het om dit te doen. “Oom, kom asseblief saam na my kantoor; ek bly nie alleen saam met daardie vent daar nie. Die kluis staan agter die deur; wanneer die kluisdeur oop is, maak die kantoordeur dus toe.” Oom Bossie vergesel my glimlaggend.

“Sal jy nou asseblief die brandkluis oopsluit, Susan.” Ek gehoorsaam dié opdrag. Alle los patroontjies word sorgvuldig nagegaan en getel. Die pakke patrone word op my lessenaar opmekaargestapel, getel en teruggeplaas in die kluis. “So ja, alles is in orde en korrek, mooi so, Susan! Jy mag maar weer die brandkluis toesluit.” Hy stempel die register met sy ampstempel en onderteken dit.

Ek voel nog gegrief, terwyl die duiweltjies steeds in sy blou oë dans.

Agtermiddag kom koop die voorsitter van die ko-op se komitee ’n paar pakkies haelgeweerpatrone. “Oom Koos sal nie raai wat vanoggend gebeur het nie.” Hy kyk my vraend aan. “Die nuwe konstabel het die ammunisieregister en patrone kom nagaan,” kla ek die konstabel aan.

“O, eindelik het die SAP wakker geskrik. Was alles toe darem reg, Susan?”

“Ja, Oom, maar ek het nie geweet dat hulle dit mag doen nie.”

Oom Koos lag. “Dis hul plig, Susan. Lyk my die nuwe konstabel neem sy werk ernstig op.” Ek haal die drie pakkies patrone wat oom Koos vra uit die kluis en plaas dit bo-op my lessenaar. Stom en uit die veld geslaan staan ons albei en kyk na die pienk liefdeslekkertjie met die woorde “EK HOU VAN JOU” wat bo-op die een pakkie lê.

Stom en uit die veld geslaan staan ons albei en kyk na die pienk liefdeslekkertjie met die woorde “EK HOU VAN JOU” wat bo-op die een pakkie lê.

“Ha-ha-ha!” begin oom Koos hardop lag en ek bloos van oor tot oor. Die volgende oomblik is almal in my kantoor om die petalje te aanskou.

“Hoe kom dit daar?” vra Lettie nuuskierig.

“O, ek weet! Die jong polisieman het mos vanoggend jou voorraad kom nagaan; ek sal Rikus moet waarsku iemand krap in sy slaai,” sê tannie Nel.

Almal lag heerlik. “Ek gooi sommer die lekker by my kantoorvenster uit!” sê ek en voeg die daad by die woord.

Ná werk ry ek huis toe. Vanaand is KJA-byeenkoms en die rolverdeling vir die eenbedryf wat ons gaan opvoer, word afgehandel. Ons woon op ’n plaas sowat 5 km buite die dorpie. Mammie is by die hoenderkamp besig en ek gaan groet haar. Gelyktydig sien ons die voertuig wat by die plaaspaadjie indraai.

“Nou wie sou dit wees, Susan?”

“Dis die polisievangwa, Mammie.”

“O, dis seker die nuwe polisieman. Hy het nou die dag, toe Barry hom kom voorstel, so aan die moerbeie gesmul en belowe hy sal room bring sodra hy weer hierdie kant toe moet ry. Hy lyk vir my na ’n gawe kêreltjie.”

“Hy’s ’n regte windbol!”

Mammie kyk my vraend aan. Ons stap huis toe. Alie bring dadelik die fles room te voorskyn. “Goeiemiddag, Tannie. Gaan dit goed? Hier is die room wat ek belowe het.” Hy bly my aankyk.

“Middag, Susan, ek het nie geweet jy kuier ook vanmiddag hier nie. Dis nou ’n geluk. Nou kan jy saam met ons moerbeie en room eet, mits jy my gou die moerbeie gaan help pluk.”

Ek knipoog vir mammie. “Nee, dis reg, Alie, solank jy die plukwerk doen; ek sal die skottel vashou. Rikus kom my juis netnou haal vir KJA. Ek wil nie my rok bevlek nie.”

Hy kyk my vraend aan. “Loseer jy dan hier?”

“Nee, Alie, ek woon hier.” Nou is Alie regtig deurmekaar. “Dis my tuiste en dit is my moeder.”

“O. Ek het eintlik nie geweet waar jy woon nie.” Skoon uitgevang!

Ons drie sit en geniet die moerbeie met die room buite op die stoep. Rikus se bakkie kom aangery en ek gaan haal my handsak. Mammie stel Alie aan Rikus voor, en toe ek uitkom, is ons haastig. “Oom Bossie het my ook opgekommandeer vir die KJA vanaand, maar ek sal sommer soontoe stap,” skree Alie agterna toe ons ry. “Sien julle vanaand.”

Die rolverdeling is ’n totale verrassing: ek en Alie speel teenoor mekaar.

Ons is maar ’n handjie vol jong mense by die KJA. Alie kom toe regtig daar aangestap. Dis die eerste keer dat ek hom in siviele klere sien. Nogal netjies, dink ek, veral toe ek na Rikus se gekreukelde kakiebroek kyk. Oom Bossie is die jeugouderling en hy gee elkeen ’n beurt om ’n karakter uit die eenbedryf te lees. Die rolverdeling is ’n totale verrassing: ek en Alie speel teenoor mekaar. Terwyl Alie se gesig spreek van vreugde, vertrek Rikus s’n van minagting. Toe bied Alie nog boonop aan om, vermom soos ’n ou man, ’n paar grappe te vertel. Ons lê soos ons lag vir sy manewales.

“Voorwaar ’n treffer vir ons konsert, Alie,” prys oom Bossie hom.

Ons oefen weekliks en die derde oefensessie oorhandig Alie aan my ’n doos sjokolade. “Spesiaal vir jou, my liewe ‘sussie’,” sê hy, “maar jy mag dit maar met almal deel.”

“Dis nou ’n mooi gebaar, Alie,” sê Hester. “Hoekom het niemand nog voorheen daaraan gedink nie.”

Almal staan nader, ek maak die doos sjokolade oop en sien dadelik dis bederf. “Aangesien jy so gaaf was om dit vir ons te koop, Alie, mag jy maar die eerste een neem, my dierbare ‘boetie’,” en ek hou dit smalend na hom toe uit.

Toe hy die eerste een wil neem, sien hy ook dadelik die dilemma. “Sies!” Ek gaan dit nou dadelik na die kafee toe terugneem!” Hy is baie kwaad en verneder.

“Dis te laat, Alie, die kafee is al toe,” sê Rikus, en is voor op die wa met die spottery wat volg.

Dit irriteer my. Ek kry Alie vreeslik jammer. Ek stap na hom toe. “Jammer, Alie, ek weet jy het dit goed bedoel,” sê ek en gee hom spontaan ’n klapsoen op die wang. Saterdagmiddag kom ’n fiets met die plaaspaadjie langs aangery. Dis Alie! Voor op die fiets hou hy ’n geskenk vas. Uitasem en ’n bietjie rooi van die hitte oorhandig hy die pakkie aan my. “Dis vir jou, Susan. Hierdie keer het ek seker gemaak dis vars; ek voel nou nog sleg oor die sjokolade.”

“Dis vir jou, Susan. Hierdie keer het ek seker gemaak dis vars; ek voel nou nog sleg oor die sjokolade.”

“Baie dankie, Alie. En dié fiets?”

“O, dis ou Petrus by die polisiekantoor s’n; hy het dit vir my geleen.”

Ek maak die geskenk oop: ’n unieke blik met gemengde koekies daarin. “O, wat ’n pragtige blik, Alie! Dit gaan beslis na my trousseau toe,” juig ek.

“Dan sal ons vinnig aan trou moet dink, Susan, anders word dié koekies ook sleg!” Hy het seker die skok op my gesig gesien, gryp my onverwags om die lyf en draai my in die rondte. “Grappie! Grappie!” probeer hy sy voorbarigheid herstel.

Het ek iewers ’n Kupidopyltjie gevoel?

Ons plaasdam is altyd op Saterdae die bymekaarkomplek van die jong mense en spoedig is ’n klomp laggende maats in die water. Afleiding was baie skaars. Alie het weer kom ammunisie tel. Toe hy wegry, sluit ek dadelik die kluis oop en daar lê dit weer! ’n Liefdeslekkertjie met die woorde “EK IS LIEF VIR JOU”.

’n Liefdeslekkertjie met die woorde “EK IS LIEF VIR JOU”.

Hierdie keer het ek dit stilletjies self opgeëet. Alie het deel van ons vriendekring geword. Rikus was jaloers! Hy en sy vriend het gewoonlik saam kom kuier. Dit gebeur toe een middag dat hulle al laggende by my aankom. Mammie vra of sy kan koeldrank skink. “Ja, asseblief, Tannie, maar skink maar nog ’n glas in. Hier kom nog ’n ou; hy het net ’n bietjie verbygery!”

Mammie kyk hulle fronsend aan. Dit kom toe aan die lig dat hulle Alie langs die pad gekry het met die fiets en hom genooi het om aan die kar vas te hou. Hulle wou hom ’n poets bak. Hulle ry toe ál vinniger op die grondpad en moes hewig rem aanslaan toe die indraaipaadjie kom. Alie het geen ander keuse gehad nie as om te los en verby te ry tot hy kon stilhou.

“Dis gemeen van julle!” Ek het al my respek vir Rikus verloor.

Etenstyd het die Boerewinkel gesluit en ek en Lettie het by die kafee gaan sit en eet. Kort voor lank was Alie ook deel van die groep. Ek vou die koerant oop en daar, in groot letters, staan: “Toneelspeelster dringend benodig. Bel . . .”

Ek is in die wolke. “Lettie, kyk hier! Hier is nou my kans om te gaan toer!”

“Jy durf nie gaan nie, Susan, jy ken nie die mense nie,” sê Alie baie ongelukkig.

Ek kon nie wag dat etenstyd verbygaan nie en skakel die Johannesburgse nommer.

“Dame, kan jy môre begin?”

“Nee, ek werk op die oomblik en moet kennis gee.”

“Nou goed, ek sal jou nommer neerskryf. Mnr. Fourie is nie nou hier nie. Ek sal dit vir hom gee. Tot siens.”

Dis nou neusie verby, dink ek teleurgesteld.

Drie weke later kom daar vir my ’n telegram: “KAN JY DIE 18DE MAART OP STELLENBOSCH WEES? MEER BESONDERHEDE VOLG NÁ JOU ANTWOORD.” Dis vandag 7 Maart. Ek veroorsaak ’n groot herrie op ons dorpie, maar niemand kan my tot ander insigte bring nie; ek gaan beslis toneelspeel en toer!

Eerstens moet ek natuurlik bedank. Ek bel oom Koos en vra of hy my verlof as kennismaand sal aanvaar. Hy is geskok, maar kan my versoek nie weier nie. Twee dae later stuur ek my antwoord en ontvang vinnig volledige besonderhede. Alie het bly rem aan my plan. Hy het spesiaal op ’n aand met die fiets plaas toe gery om te kom soebat. “Susan, ek het jou lief; ek wil weet wat wag op my in die toekoms wanneer ek by hierdie voordeur uitstap.”

“Susan, ek het jou lief; ek wil weet wat wag op my in die toekoms wanneer ek by hierdie voordeur uitstap.”

Roekeloos antwoord ek: “Twee stoeptrappies!”

Al my vriende het geweet dit gaan vir my ’n probleem wees om op Johannesburgstasie te kom, maar net Alie het gevra: “Hoe gaan jy in Johannesburg kom?”

“Nee, ek weet nog nie, Alie.”

“Toemaar, laat dit aan my oor. Jy het nog so baie om te doen en die tyd raak kort. Ek sal ’n plan maak – wat my betref, ’n hartseer plan.”

Ek het dit opreg waardeer en hom omhels. “Dankie, Alie, jy is voorwaar ’n staatmaker.” Hy het my hart stadigaan begin wen.

Alie het ’n vriend se motor geleen en my self op Johannesburgstasie gaan wegsien. Die afskeid was swaar: ek was gelyktydig opgewonde en bang vir die vreemde wat voorlê. Op Stellenbosch se stasie het die Fouries my ontmoet. Mnr. Fourie bring ’n wit koevert uit sy sak te voorskyn. “Susan, jy het blykbaar tuis iemand se hart gebreek, want hierdie brief het gister al vir jou aangekom. Ek was baie verbaas.”

“Susan, jy het blykbaar tuis iemand se hart gebreek, want hierdie brief het gister al vir jou aangekom. Ek was baie verbaas.”

En wie was die skrywer? Alie, natuurlik!

Afstand het ons liefde versterk. Ek het gereeld ons toerplanne huis toe gestuur. Afgespreekte tye het hy my gebel en dit het die verlange darem gestil.

Aprilmaand het hy mondig geword en laat weet hy gaan twee weke verlof neem. Op ’n aand is dit my beurt om kaartjies by die deur te verkoop. Skielik staan Alie voor my.

“My rooihaar-meisiekind!” Hy raap my op en draai my in die rondte.

“Wat maak jy hier?” vra ek bly en verward.

“Ek kom vir ’n hele week saam met julle toer.”

“Ja, maar waar gaan jy slaap?”

“O, dis geen probleem nie; ek sal in die polisiekantore oornag, en as jou baas my nie saam met die bus wil karwei nie, ryloop ek tot op die volgende dorp waar julle optree.” Natuurlik het my baas hom saam laat toer. Hy wou baie graag die blitsige brieweskrywer ontmoet.

Alie is na Louis Trichardt verplaas en het dadelik met sy studie begin. “Jy het beloof jy sal met my trou sodra ek ’n sersant word,” het hy my bly herinner. Terwyl ek my toneeldae geniet het, het Alie geduldig gewag en sy eerste twee eksamens suksesvol afgelê.

Die volgende jaar bel hy my met die nuus dat hy die laaste twee weke van Mei in Bloemfontein by die Uniefees moet gaan diens doen. “Dan is ek darem nader aan jou.”

Ek raak opgewonde en neem weer oorhaastig ’n besluit. “Alie, ons maak klaar met hierdie toneelstuk; kry vir my blyplek naby jul kamp. Ek gaan bedank! Ek wil graag die fees bywoon.”

Groot blydskap! Intussen het ek my lang hare afgesny en Alie het al sy tande laat trek. Toe hy my op Bloemfonteinstasie haasbek groet, is ons teleurstelling in mekaar ewe groot. Pleks van dolverlief wees, voel ons vreemd vir mekaar. Ons kan mekaar net nie weer vind nie; ’n verwydering het ingetree. Die hele week voel ons afsydig teenoor mekaar.

Pleks van dolverlief wees, voel ons vreemd vir mekaar.

Die laaste dag van die feesviering sluit af met ’n vuurwerkvertoning op die ou lughawe. Vroegmiddag kom sê hy my hulle gaan almal nou met die trok vertrek om daar diens te doen.

Selfstandig reël ek met twee ou mense om saam met hulle te ry, want my vriend wag daar op my. Ek is geskok om te hoor die lughawe is so ver buite Bloemfontein.

Wat ’n chaos! Die verkeer hoop kilometers ver op. Reën sak uit. Die motoriste wat binne die terrein is, besef daar gaan nie meer ’n vertoning wees nie en wil uitry, terwyl honderde karre van Bloemfontein af steeds instroom.

Elke polisieman dra ’n reënjas; almal lyk eenders. Hoe gaan ek Alie ooit opspoor?

Toe ons eindelik binne parkeer, neem ek my goed en groet die ou mense. Ná sowat ’n halfuur se loop kom ek op Alie-hulle se eenheid af. “Waar is Alie?”

Almal lag. “Susan, hy het vroeg vanmiddag al gedros; jy sal maar saam met ons moet terugry kamp toe.”

Ek glo hulle nie en gaan soek verder. Ek vind toe uit daar is twee ingange en besluit ek sal by die een naaste aan Bloemfontein onder ’n boom gaan staan. En daar staan ek tot die laaste motor weer by die terrein uitry.

Die bestuurder van die trok wat die polisiemanne vervoer, hou ’n paar keer by my stil. “Susan, klim in en ry saam met ons; jy kan nie alleen hier staan nie.”

“Nee dankie. Alie sal my hier kom kry.”

“Ek kom nog een maal terug om die laaste ouens op te pik; as jy dan nog hier staan, dwing ek jou in die trok, hoor jy?”

“Dis reg so.”

Handygas het by elke ingang ’n groot gaslamp gehang. Eenuur die nag kom haal hulle die lampe. Daar staan ek alleen in die stikdonker. Gelukkig kom die trok spoedig en ek spring self voor by die bestuurder in. “Waar woon jy, Susan?”

“Ek ken nie die adres nie, maar as jy my tot by die spoorwegoorgang bring waar jul kamp is, sal ek daarvandaan die pad vir jou kan beduie.” Meteens voel ek baie onseker. Het Alie my dalk gelos?

Daar gekom, wys ek hulle die weg. In die pad stap ’n polisieman. “Dis Alie! Dis Alie!” skree ek. “Stop! Hou stil!”

“Nee wat, laat hy maar vir sy straf agternadraf.” Toe die trok stilhou, spring ek uit en onmiddellik is Alie daar om my in sy arms vas te vang. Die buurt se honde gaan aan’t blaf, die polisiemanne lag, maar ons is net bewus van mekaar terwyl die reën saggies oor ons neersif. Haasmond en kort hare is nou vergete; die liefde seëvier weer!

Haasmond en kort hare is nou vergete; die liefde seëvier weer!

Ná die soveelste soen sê hy: “Toe ek sien die lughawe is so ver buite Bloem, het ek dadelik moeilikheid verwag. Toe dros ek! Ek het gehoop om jou nog op die paviljoen te kry. Dit was hel! Ek is na elke nabygeleë SAP, hospitaal, selfs by die lykshuis, maar my rooikop was net weg! En nou, liefling, los ek jou nooit weer alleen nie.”

Onder die flou lamplig kyk hy my lank liefdevol in die oë en vra dan: “My rooikop-meisiekind, sal jy asseblief my vroutjie word?”

“Ja, Alie, ja!”

Dis drieuur in die oggend. Die reëndruppels meng met die trane van blydskap wat oor ons gesig loop terwyl ’n kring vreemde mense wat om ons gevorm het, jolig hande klap.

Deur Ritha Kruger