Deur Elize Parker

Marietjie Groenewald gaan skuil teen die suidooswind in ‘n vintage winkel vol antieksjiek koopgoed. Die roomkleurige sjaal met sy onvoltooide skulpiesrand trek dadelik haar oog.

“Waarmee help ek?” vra die lang, skraal man wat nader staan. “Ietsie warms dalk?” Hy kyk ondersoekend na die langbeenmeisie met die wolmus styf oor haar kop.

“Ek dog dis somer in die Kaap!” Sy lig die sjaal op. “Hoekom is hier skulpies aan? En hoekom net so ‘n paar?”

“Als hier het ‘n storie. Ek het die sjaal in ‘n ou bruidskis gekry. Ek het dit op ‘n veiling gekoop.”

“Ek’s mal oor stories!”

“Ek ook!” Hy wys sy moet hom volg. In ‘n stoorkamer lig hy die etiket aan die bruidskishandvatsel: Johanna Jordaan, Tabitha Hospies, Houtbaai.

Sy glimlag halfhartig en rinkel haar karsleutels. “Kom jy saam?”

By die hospies groet die ontvangsdame, Merle, hom op sy naam. Paul, en sê: “Ek verlang darem vreeslik na jou ma.”

Merle wys na die sjaal en sê: “Johanna is reeds by haar Maker. Haar oorlede man was mos ‘n visser. Elke week het hy ‘n skulpie gebring. Dan knoop sy dit vas aan ‘n fraaiing. So het die skulpies gewys hoe lank sy hier was en hoeveel tyd sy oor het. Dit was haar kalender. Sy is toe gouer weg as wat hulle gedink het.”

Hulle groet en stap gesels-gesels strand toe. Daar is soveel raakpunte tussen hulle. Boeke, films en kos, hulle smaak is dieselfde. Sy wonder of mens jou hart binne ‘n paar ure op ‘n vreemdeling kan verloor?

Toe hulle op die sand sit, skuif haar mussie af en val op die sand. “Daar was toe ‘n storie.” Sy vryf oor haar kaal kop.

“Daar is altyd. Vertel my joune,” sê hy.

“Waar moet ek begin?” Sy sit die mussie weer op.

Sy glimlag is innig. “Sommer iewers.” Hy knoop rustig ‘n gebreekte skulpie aan ‘n fraaiing vas.

“Dis nie nodig nie. Ek is aan die herstel.”

Hy gooi die sjaal om haar skouers. “Kom saam my huis toe. Die wind is nou te erg.”

HET JY AL VIR HUISGENOOT SE LIEFDESVERHAALKOMPETISIE INGESKRYF?

IS jou ware liefdesverhaal so dramaties, komies en spesiaal dat jy dit nog altyd met mense wou deel? Wel, waarvoor wag jy? Die tyd raak min om vir Huisgenoot se liefdesverhaalkompetisie in te skryf. Op 16 Mei 2016 word Huisgenoot ‘n hele honderd jaar oud en om die mylpaal te vier, gaan ons ‘n fliek maak. En jou ware liefdesverhaal mag dalk net die inspirasie vir ons draaiboek wees.

So, tel nou jou iPad, slimfoon of rekenaar op en stuur jou liefdesverhaal van nie meer nie as 3000 woorde na HG100fliek@huisgenoot.com voor 14 Februarie 2015. ‘n Paneel van Huisgenoot en kykNET, een van ons borge, sal die verhale evalueer. Buiten die kans dat jou verhaal die inspirasie van ‘n fliek kan wees, is daar kontantpryse van altesaam R10 000 op die spel. KLIK HIER om te sien aan watter kriteria jou storie moet voldoen.

Om jou te inspireer om jou unieke liefdesverhaal te skryf, het ons skrywers gevra om elk vir ons ‘n liefdesverhaal van tussen 100 en 300 woorde te skryf – en Cupido se pyltjie is (meestal) sekuur.