Deur Dana Snyman

Oom Tommie bel my nog soms. Ek was ook al by hom en tannie Madel in die aftree-oord in Pretoria waar hulle nou woon. Beide van hulle is al naby tagtig.

Oor hoe hulle bymekaar gekom het, kan ek nie eintlik kort skryf nie. Dit was in die jare tagtig. Ek was jong en werkloos, en op ’n dag was daar ’n kleinadvertensie in die koerant: “Motorbestuurder benodig. Ruim vergoeding.”

Só het oom Tommie in my lewe gekom. Hy was ’n klavierstemmer, ongetroud, en het iemand gesoek om hom in sy Chev-kar te neem na waar hy klaviere moet gaan stem, want oom Tommie is blind gebore.

Een middag is ons na ’n dorp naby die stad. Hy moes tannie Madel, wat klavierlesse vir die kinders op die dorp gegee het, se Steinway gaan stem. Ek het oom Tommie tot by haar voordeur gelei, en geklop. Dit was die eerste keer dat hulle mekaar ontmoet.

Daardie middag het ek langer as gewoonlik vir oom Tommie in die Chev gewag. ’n Week later is ons terug soontoe, want die Steinway was glo nog effe vals.

Tannie Madel se Steinway het daarna knaend nóg aandag nodig gehad, totdat oom Tommie dit nie langer kon wegsteek nie. Hy was toe al iets in die veertig. Nog nooit voorheen was hy verlief nie, en ek moes help rose en sjokolade koop, en hom help nuwe klere uitsoek.

Ek het oom Tommie se vreugde beleef, en later ook iets van sy verdriet gevoel. Tannie Madel was getroud. Haar man het as ’n boukontrakteur in Botswana gewerk en wou nie die egskeidingsdokumente teken nie. Die dorp het begin skinder, want tannie Madel was boonop die plaaslike moedergemeente se orrelis. Party ouers wou nie hê sy moet langer vir hul kinders klavierlesse gee nie.

Ek het oom Tommie langs my in daardie Chev gesien huil – traanlose trane uit sy dooie oë.

Hulle storie se gelukkige einde het nie maklik gekom nie. Die moedergemeente se dominee het later betrokke geraak. Hy kon ware liefde herken toe hy dit sien.

Oom Tommie stem nie juis meer klaviere nie, maar in hul woonsteletjie in die aftree-oord staan tannie Madel se Steinway, ingestem, en presies op noot.

Het jy al vir Huisgenoot se liefdesverhaalkompetisie ingeskryf?

IS jou ware liefdesverhaal so dramaties, komies en spesiaal dat jy dit nog altyd met mense wou deel? Wel, waarvoor wag jy? Die tyd raak min om vir Huisgenoot se liefdesverhaalkompetisie in te skryf. Op 16 Mei 2016 word Huisgenoot ‘n hele honderd jaar oud en om die mylpaal te vier, gaan ons ‘n fliek maak. En jou ware liefdesverhaal mag dalk net die inspirasie vir ons draaiboek wees.

So, tel nou jou iPad, slimfoon of rekenaar op en stuur jou liefdesverhaal van nie meer nie as 3000 woorde na HG100fliek@huisgenoot.com voor 14 Februarie 2015. ‘n Paneel van Huisgenoot en kykNET, een van ons borge, sal die verhale evalueer. Buiten die kans dat jou verhaal die inspirasie van ‘n fliek kan wees, is daar kontantpryse van altesaam R10 000 op die spel. KLIK HIER om te sien aan watter kriteria jou storie moet voldoen.

Om jou te inspireer om jou unieke liefdesverhaal te skryf, het ons skrywers gevra om elk vir ons ‘n liefdesverhaal van tussen 100 en 300 woorde te skryf – en Cupido se pyltjie is (meestal) sekuur.