Ai, ek sweer jou oupa is in die groot versoeking om die paradys tydelik te verlaat en terug te kom aarde toe. Ek weet nie of sy vlerke sterk genoeg sal wees om die gewig van sy geswolle bors te dra nie.

Annarie, dit is jou verkiesing tot die Proteaspan wat maak dat my gedagtes aanhoudend na die gisters van lank gelede dwaal.

Dit was die winter van 1948 toe ek op die netbalveld die eerste keer die manstem met die effens anderse aksent hoor: “Kom uit! Kom uit!” Met ’n systap het ek die ander span se hoofdoelverdediger gepypkan, die bal bo haar kop gevang en my landingsvoet stewig geplant.

Deesdae hardloop julle mos omtrent resies op die netbalbaan. Elke keer dat jy daardie landingsvoet lig, voel dit vir my soos ’n voetfout.

Ek is amper op die doelsirkel, maar sien die hulpdoel gaan nie vinnig genoeg oop raak om nader aan die pale te doel nie. Die puntetelling is gelykop en ons het die doel nodig om te wen. “Vat jou tyd en skiet!” moedig die stem weer aan.

“Vat jou tyd en skiet!” moedig die stem weer aan.

Ek mik sekuur en doel. Die bal trek deur die lug, tref die doelsirkel se binnerand en begin in die rondte tol. As die bal tog net nie verkeerde kant toe spring nie. Ek weet nie of my ore toegeslaan het nie, maar ek hoor nie ’n geluid van die ondersteuners langs die veld nie.

Geleidelik verloor die bal spoed en sak deur die sirkel. Almal juig, maar ek hoor Vreemde Aksent se gelukwensing die helderste: “Mooi so, Bultfontein!”

Spesiaal vir jou, vreemdeling, dink ek stuitig, en loer vinnig in sy rigting. Die man het daardie uitsonderlike blou oë wat lyk of dit met ’n swart randjie omraam is. Ek moet my aandag egter weer vinnig bepaal by die wedstryd. Wesselsbron is ’n tawwe teenstander.

Toe die eindfluitjie blaas, wen ons met een doel. Die vreemdeling se doel het die knoop deurgehak.

Ná die gelukwensings begin ek aanstap paviljoen toe om ons dorpie se eerste rugbyspan te gaan aanmoedig. Iemand val langs my in.

“Baie geluk! Jy het uitstekend gedoel,” wens die man met die mooi oë en aksent my geluk.

“Dankie.” Hy is aantreklik verby. ’n Bietjie oud; iets in die 30. Hy hou sy hand uit. “Charles Store,” stel hy homself voor. Hy lig sy kop en kyk op in my oë. “Wow!” sê hy. “Met jou lengte moes jy nie ’n bal gemis het nie.” Ongeskikte vent.

Wow!” sê hy. “Met jou lengte moes jy nie ’n bal gemis het nie.” Ongeskikte vent.

“Dankie, Oom. Anna Mostert.” Ek vat sy hand.

“Oom? Oom! Waar ek vandaan kom, is dit ongemanierd om vir mense oom te sê.”

“Dit is hoe ons in hierdie omgewing respek teenoor ouer en wyser mense betoon, Oom.”

Sy mondhoeke krul boontoe.

Asof dit die doodnatuurlikste ding ter wêreld is, sak hy langs my op die paviljoen neer. “Iemand spesifieks vir wie jy skree?” vis hy.

Ek wys na die lang, stewige stut.

“Wow!” sê hy weer. “Julle gaan hemelbesems vir kinders hê.”

Ek word tot agter my nek warm. “Jy is siek!”

As my woorde koeëls was, was hy dood. Sy mond gaan vir ’n paar oomblikke oop en toe voor hy eindelik vra: “Wat nou? Wat het ek gesondig?”

“Dit is my broer Louis.”

“Ek is jammer. Hoe moes ek nou weet?”

Jammer se voet. Die verligting is net te duideilik op sy gesig te sien. Uit sy kommentaar en aanmoediging vir ons span is dit duidelik hy ken sy rugby. Geleidelik kom ek agter hy het op sy dag vir Suidwestelike Distrikte rugby en hokkie gespeel. Hy is net tydelik op die dorp, want hy doen bouwerk vir die poskantoor.

Die Saterdae wat volg, begin ek gewoond raak aan sy stem langs die netbalveld, en daarna kuier ons langs die rugbyveld.

Die Saterdae wat volg, begin ek gewoond raak aan sy stem langs die netbalveld, en daarna kuier ons langs die rugbyveld.

My jonger broer is aanvanklik effens ongemaklik in die Engelsman se geselskap, maar hulle deel ’n universele taal: rugby. Ná elke wedstryd word nabetragting gehou oor die goeie en slegte.

“Kom drink koffie,” nooi my boetie hom een Saterdag na ons huis oorkant die straat.

Louis dink nie. As dit so maklik was, sou ek hom lankal genooi het.

Oupa staan swaar op; een van die twee koeëls wat hom gedurende die Anglo-Boereoorlog getref het, het die bopunt van sy nier geraak en dié gee hom nou groot probleme. “Sit,” nooi hy vriendelik. Ma Miemie en ouma Annie kom uitgestap, en toe Charles hom voorstel, sê ma Miemie styf: “ ’n Ingelsman.”

Charles se mond gaan weer oop en toe, nes langs die rugbyveld, maar toe gaan daar vir hom lig op.

“Nee, Tante, my pa was van Noorweë. Store beteken ‘groot riviervis’.” “Kan wees. Hy hap lug, nes ’n baber op droë grond,” sê ouma Annie onderlangs.

Ma Miemie sê niks. Die man praat Engels en sy van is Engels. Engels bly Engels.

Ma Miemie sê niks. Die man praat Engels en sy van is Engels. Engels bly Engels.

“Hoe oud is jy, Meneer?”

Ek krimp ineen. Dit is ouma Annie; altyd reguit.

“Vier en dertig, Tante.”

Ouma se oë trek skrefies. “Jy weet ons Anna is net 20?”

Dit is nie my ouderdom wat die probleem is nie. Ouma Annie is weer terug in tent 110 in Brandfort se konsentrasiekamp.

“Vrou, moet ons nou heeldag wag vir ’n lekseltjie?” Aan oupa se stemtoon kan die twee vroue duidelik hoor die gesprek is nou afgehandel.

Gou-gou trek Charles, my twee broers en oupa tou oor wie die beste rugbyspan is: WP of die Vrystaat? Daar word gelag en geterg, maar die twee vroue is sfinkse.

Charles weet nie net van sport nie. In ’n stadium bedaar die gelag en ek hoor hoe hy en oupa die Boere se strategie gedurende die oorlog bespreek. Oupa vertel hom hoe hy deur die Vetrivier gejaag het en hoe Olof Bergh se scouts hom eers deur die skouer en toe deur die heup geskiet het – nie iets waaroor oupa maklik praat nie.

Eendag wanneer hy nie meer by bouwerk betrokke is nie, deel Charles op sy beurt, gaan hy terug Mosselbaai toe; die see druis in sy are.

“Uitlander!” sê ouma Annie onder haar asem. Toe Charles op ’n fatsoenlike tyd opstaan om te loop, knik die twee vroue net styf, maar oupa pomp sy hand hartlik op en af.

“Uitlander!” sê ouma Annie onder haar asem.

By die hekkie sit Charles sy arm om my skouers. “Dit gaan nie maklik wees om by jou te kom kuier nie.”

Hy bring sy mond nader aan myne en my hart gaan amper staan van afwagting. Ek maak my oë toe en wag en wag en wag, maar niks gebeur nie. Naderhand loer ek. Sy mond is steeds op ’n soentuit getrek, maar sy oë is op iets agter my gefokus. Ek draai my kop en sien ma Miemie in die venster staan. Dit voel soos ’n ewigheid voor sy wegdraai.

“Gou,” sê hy en gee my ’n vinnige, driftige soen. Ek voel lighoofdig, soos wanneer ek ’n paar monde van oupa se perskebrandewyn gesteel het.

“Wat ’n aangename Ingelsman,” sê oupa toe ek die kombuis binnekom.

Selfs vir oupa Lukas bly Charles ’n Engelsman.

“Wys my ’n dooie Ingelsman en ek wys jou ’n goeie Ingelsman,” sê sy dogter, my ma, Miemie.

“Lukas, jy sien geen kwaad in enigiemand nie. Kyk net hoe heul jy elke dag van jou lewe daar onder daardie doringboom in die hoek van die sportterrein met die ou hanskakie Neels van Jaarsveld. Rook kamtig saam,” raas ouma Annie.

“Ai, my vrou, met sulke swak oordeel, hoe het die geluk my dan getref om jou aan my sy te hê?” Hy glimlag ondeund en sy bloos asof sy 16 is.

Die toppe van die bloekombome al om die rand van die sportterrein buig in die wind. Vandag gaan dit moeilik wees om ’n doel in te kry. Dit is sulke tye dat ek wonder of ma Miemie nie reg is nie; miskien moes die munisipaliteit die uitlandse goed lankal afgekap het.

Ek behoort bly te wees oor die kort briefie in my hand, maar ek is nie. Om na die provinsiale proewe genooi te word is tog waaroor ek nog altyd gedroom het.

Ja, Annarie, miskien verstaan jy nou hoekom jou ouma so opgewonde is elke keer dat jy vir ’n volgende span gekies word. Eers was dit vir jou skool se eerste span, toe vir SA o.16 en o.19, daarna Kovsies en kaptein van die o.21’s en nou vir die Proteaspan.

Miskien het jou oupa daar Bo iets daarmee te doen.

“Anna?”

Charles se stem registreer deur my mismoedigheid.

Hy gee my een kyk. “Wat makeer?”

“Lees.” Ek hou die brief na hom uit.

Sy oë gly vinnig oor die saaklike briefie.

“Wonderlik! Hoekom die lang gesig?”

My kind, in daardie dae is niks vir jou betaal nie. Jy moes verlof neem en jou eie onkoste dra.

Charles hurk langs my terwyl ek verduidelik. My pa is al jare in die Oranjehospitaal met ’n gewas op die brein; ’n wawiel het oor sy kop gery toe hy jonk was. As oudste gaan ’n groot deel van my salaris na die huishouding en om die twee jongstes op skool te hou. Nadat ek klaar gepraat het, dink hy ’n rukkie. “Ek verdien nie baie geld nie, Anna, maar ek kan darem die onkoste dra vir die proewe. Dit sal goed wees as ons trou, want dan het jy ’n heenkome wanneer jy jou provinsiale kleure kry.”

Dit duur ’n rukkie voor ek besef die man het my nou net gevra om te trou.

Dit duur ’n rukkie voor ek besef die man het my nou net gevra om te trou. Dit is asof my gees saam met die wind blaar vir blaar teen die bloekomboom opstyg. Soveel geloof in my. Die teleurstelling oor die proewe lyk nietig.

“Daar is natuurlik net een voorwaarde: jy sal saam met my see toe moet trek.”

Hy hou sy stem lig, maar ek hoor die erns daarin.

Ek sal Putsonderwater toe saam met hom, maar proewe toe sal ek nie, al trou ek met hom. Ek het steeds geldelike verpligtinge teenoor my gesin, maar ek weet met ’n vaste sekerheid ek gaan die res van my lewe saam met Charles Store deurbring.

Hy neem my hande en trek my regop. “Toe, los die lang gesig en laat elke doel tel. Vir my.”

Aah, Annarie, daardie dag het ek die een doel ná die ander ingeskiet. Vir jou oupa. Die wind het my nie gepla nie; dit het die bal keer op keer deur die doelsirkel geblaas en die bloekombome het met ’n geruis hande geklap.

In die voorkamer sak ek in die diep art deco-stoel weg. Teen die muur kyk die Mostert- en Pretorius-oorgrootjies my streng aan.

Net soos ma Miemie en ouma Annie.

Met dié dat al die jonger kinders iewers heen is, het Charles besluit nou is die regte tyd om met die ouer mense te praat. Toe ek na die vroue se gesigte kyk, weet ek nie of daar ooit ’n regte tyd sal wees nie. My hart klop in my keel.

Hy val sommer met die deur in die huis: “Oom Lukas, as dit reg is met Oom en met tannie Annie en tannie Miemie, wil ek graag met Anna trou.”

Annarie, so het ek jou oupa deur die jare leer ken; reguit en op die man af, net soos my ouma Annie. Seker dié dat dit ’n rukkie gekos het om mekaar te vind.

Lank is net die horlosie teen die muur se getiktak hoorbaar. Eindelik verbreek ouma Annie die stilte. “Sê my, Charles, jy is nie meer ’n speenkalwer nie; hoekom is jy nooit getroud nie?” Sy kyk hom ysig aan.

“Ek was getroud, Tante, maar is nou al ’n paar jaar lank geskei.”

“Ek was getroud, Tante, maar is nou al ’n paar jaar lank geskei.”

Die twee vroue is sprakeloos van skok. Die horlosie teen die muur gooi bomme in die vertrek rond.

“Terwyl ek in die oorlog was, het my vrou iemand anders gekry. Ses jaar is ’n lang tyd.”

Ek hoor die pleitende klank in sy stem.

“ ’n Geskeide man,” snak ma Miemie.

“Jy het vir ons vyande geveg?” Dit klink of iemand ouma Annie se asem uitgeslaan het.

“Nee, Tante. Ek was vir Suid-Afrika saam met Engeland en die Geallieerdes teen Duitsland en die ander spilmoondhede.”

“Presies! Jy was aan die kant van die Rooinekke, wat ons mense vermoor en ons land gevat het.”

“Ek het vir my land diens gedoen, Tante.”

Aan Charles se stemtoon kan ek hoor hy gaan nie baie langer die twee vroue se afkeur duld nie. Ek kan hom nie kwalik neem nie. Hoekom sê oupa Lukas niks?

“Nee, Tante. Ek was vir Suid-Afrika saam met Engeland en die Geallieerdes teen Duitsland en die ander spilmoondhede.”

“ ’n Geskeide man en ’n Smuts-meeloper.” ’n Geelslang se pik kan nie giftiger as ouma Annie se woorde wees nie.

Charles word bloedrooi en sy blou oë word ys.

“Oorlog is niemand se maat nie.” Oupa Lukas praat nie met ons nie.

“ ’n Kolonialer wat wil terug see toe. Met my kind? Oor my dooie liggaam.”

Ma Miemie trek haar lang gestalte uit die stoel orent en met haar vinger wys sy na buite. Sy het nog skaars haar vinger reguit gemaak, of Charles is by die deur. Hy gaan staan stil, draai om en sê: “Ek laat niemand op my neersien nie.”

Ja, my kind, daardie trots het al my kinders en kleinkinders van hul oupa geërf.

My hele liggaam is lam. Dit duur ’n paar minute voor ek na buite storm, maar toe is sy figuur al klein die straat af. “Charles!” As hy my hoor, wys sy stywe rug dit nie.

“ ’n Kolonialer wat wil terug see toe. Met my kind? Oor my dooie liggaam.”

“As ’n mens ’n oorlog deur is, het jy murg in jou pype.” Oupa Lukas praat steeds met homself in die voorkamer. Hoe het dinge so vinnig verkeerd geloop? Op die sportterrein buig die bloekombome se toppe tot amper op die grond in die wind.

Die dae en weke wat volg, is net ’n vaalte. Ouma Annie en ma Miemie maak of niks gebeur het nie, maar ek kan sien hoe hulle onderlangs na my kyk. Oupa Lukas gee my elke vyf minute ’n drukkie, maar sê niks oor wat in die voorkamer gebeur het nie.

Vir Charles sien ek nie meer langs die netbalveld nie, en as ek nader stap om langs hom op die paviljoen te gaan sit, draai hy sy kop weg en maak of ek nie bestaan nie.

Nee, Annarie, dit was nie meer vir my lekker om netbal te speel nie. Ek het siek geword. Ek dink julle jong mense van vandag sal sê dit was depressie.

Een Saterdag voel ek eenvoudig te sleg om ’n wedstryd te speel. Ek het net nie die krag om op enigiets te konsentreer nie. Ek wil nie elke keer dat ek uitspring en ’n bal vang om te doel vergeefs wag vir die stem wat sê “vat jou tyd, maak seker” nie.

Daar is nie meer ’n motivering om akkuraat te doel nie. Daar is niemand meer vir wie ek doel nie.

Ek gaan sit op die stoep met Die Huisgenoot, maar ’n kompetisie wat lesers nooi om te skryf en te vertel hoe hulle daaroor voel om met Engelssprekende Suid-Afrikaners te trou, laat die trane rol. Nie eens Honiball se lawwe bobbejaan kan my laat beter voel nie. Ek wonder heeltyd wat op die netbalbaan gebeur. Ek het my span in die steek gelaat.

Annarie, as sport jou een ding leer, dan is dit dat die lewe uit spanwerk bestaan. Alleen kan niemand van ons regkom nie. Ek het geleer ek is nie ’n alleenmens nie.

Deur die donkerte van my gedagtes hoor ek skielik ’n Babelse lawaai in die kombuis.

“Waar is Anna?” Charles se stem ruk my tot in die hede en soos blits is ek by die kombuis. “Charles Store . . .”

Ma Miemie se vinger lig weer, maar Charles sien my in die deur staan. “Ek was bekommerd oor jou. Hoekom speel jy nie wedstryd nie?”

Voor ek kan antwoord, skud ma Miemie haar vinger soos ’n wafferse oorlogsoffisier. “Nee, tant Miemie, vandag laat ek my nie weer soos ’n sleg hond wegjaag nie. Julle is niks beter of slegter as ek nie. Ek kan vir julle onheilig, volksvreemd en ’n SAP wees, maar aan moederskant is my familie net sulke Afrikaners soos julle. My oupa Boshoff was die broer van jul provinsie se tweede president.”

“Moet ons jou glo?” Ouma Annie tree nou ook tot die stryd toe.

“Stil, vrou!” Oupa Lukas se stem bulder deur die vertrek.

Dis ma Miemie en ouma Annie se beurt om soos babers na asem te snak. Hul monde gaan halfpad deur hul sinne oop en toe van skok.

“As jy nie deur die oorlog vir my gewag het nie, my vrou, wat moes ek doen? Ek het dalk glad nie huis toe gekom nie. Jy het my daardie hoop gegee dat alles reg sal eindig, al het ons nie die oorlog gewen nie.”

Oupa Lukas sluit sy oë, want dit is vandag nog vir hom ’n seer storie. “Die man het nie ’n Annie Fourie in sy lewe gehad nie en jy oordeel hom daaroor.” Oupa Lukas praat nou pleitend. Ouma Annie het nie soos gewoonlik ’n antwoord gereed nie, en ek kan kan sweer sy lyk effens skaam.

“En, Tante,” praat Charles met ma Miemie, “as ek en Anna trou, belowe ek ons sal hier in die Vrystaat huis opsit. Nie ver van Tante-hulle af nie.”

“En, Tante,” praat Charles met ma Miemie, “as ek en Anna trou, belowe ek ons sal hier in die Vrystaat huis opsit. Nie ver van Tante-hulle af nie.”

Selfs ma Miemie weet hoe groot die opoffering vir hom moet wees, want ná ’n rukkie se ongemaklike stilte sê sy: “Ja, toe, gaan help die twee seuns met die melkemmers.”

Hy het sy woord gehou, Annarie. Hier het ons gebly en in die Vrystaatse rooigrond het ons hom te vroeg gebêre nadat hy jare lank getrou langs my netbalbaan was.

Proewe het hy my nooit sien speel nie, maar elke keer dat jy daardie bal lig, hoor ek hom daar Bo skree: “Maak seker!” En elke keer dat die bal deur die sirkel val, voel dit vir my jy het ’n doel vir jou oupa gegooi.

’n Doel vir my Charles.

Deur Marie Schoeman