Vodacom het na bewering hul intekenaars se nommers aan sake- en bemarkingsondernemings verskaf, het The Times Donderdag berig.

Die sellulêre maatskappy het na bewering Woensdag bevestig van hul 32,5 miljoen plaaslike en 27 miljoen internasionale intekenare se persoonlike besonderhede is aan ander ondernemings verskaf.

Die maatskappy het ’n “dringende” interne ondersoek na die saak geloods.

Die Vodacom-woordvoerder Richard Boorman het aan The Times gesê die maatskappy het “loopkopreël-verryking” vir sekere derdepartydienste gebruik, maar dis nie hul standaardpraktyk nie.

Loopkopreël-verryking verwys na wanneer persoonlike data na ’n webtuiste oorgedra word wanneer ’n gebruiker ’n webtuiste op hul selfoon besoek.

“Ons gebruik dit vir ’n uitgesoekte getal Vodacom- en betroubare derdepartydienste,” het hy gesê.

“Ons verseker ons klante dat hul inligting nie gereeld met alle webtuistes gedeel word nie.”

Richard het na bewering geweier om te sê of Vodacom betaling ontvang in ruil vir die inligting, of intekenare se toestemming gevra is en wie die derde partye is.

“Ons het laat Woensdag van die situasie te hore gekom. Ek sal beter kommentaar kan lewer sodra die ondersoek voltooi is,” het hy gesê.

- Sapa