Die nuwe werklikheidsreeks Vlerksleep het omtrent die land aan die praat. Week ná week ontmoet ’n hubare jong man vier meisies se familie en vriende. Gegrond op die indruk wat hulle maak, besluit hy wie hy in lewende lywe wil ontmoet.

[caption id="attachment_132568" align="alignnone" width="600"]Die skaam, teruggetrokke Jacques le Roux het vandeesweek probeer liefde vind op Vlerksleep. Die skaam, teruggetrokke Jacques le Roux het vandeesweek probeer liefde vind op Vlerksleep. [/caption]

Vandeesweek het die skaam, teruggetrokke Jacques le Roux besluit om die blonde bom Abigail Janse van Rensburg op ’n afspraak te vergesel. Hy verklap dinge het besonder flink verloop. “Die afspraak was baie lekker en ek het dadelik van haar gehou,” vertel hy vol selfvertroue.

“Ons het baie gemeen en kon lekker gesels. Sy het ’n baie goeie eerste indruk gemaak en natuurlik ook baie mooi gelyk.”

Tog sê Jacques dit was ’n bietjie ongemaklik om oral deur ’n kamera gevolg te word. Hy was eers op die derde dag werklik gewoond daaraan. Dié 24-jarige Stellenbosser meen dit het, ironies genoeg, nie veel geverg om hom te oortuig om aan Vlerksleep deel te neem nie. “Ek wou graag iets buite my gemaksone aanpak,” sê hy.

Jacques speel in sy kerk se orkes en vertel hy het nie noodwendig aan Vlerksleep deelgeneem om liefde te vind nie. “Dis darem onwaarskynlik (dat ek liefde sal vind) as ek net uit vier mense kan kies,” verduidelik hy. “Ek wou dit doen vir die ervaring, en dalk om oulike mense te ontmoet.”

Een so ’n “oulike mens” wat Jacques vlugtig ontmoet het, is Rozel Kotze. Jacques moes eindelik tussen Rozel en Abigail kies en kon net een op ’n afspraak vergesel.

[caption id="attachment_132570" align="alignnone" width="600"]“My hart het ekstra vinnig geklop. Ek was baie op my senuwees,” vertel Rozel van die oomblik toe Jacques aan haar voordeur kom klop. “My hart het ekstra vinnig geklop. Ek was baie op my senuwees,” vertel Rozel van die oomblik toe Jacques aan haar voordeur kom klop.[/caption]

“My hart het ekstra vinnig geklop. Ek was baie op my senuwees,” vertel Rozel van die oomblik toe Jacques aan haar voordeur kom klop. Rozel het die verrigtinge op ’n skerm in ’n ander vertrek dopgehou. “Ek was bly om te sien hy is ’n donkerkop met sterk gelaatstrekke.”

Haar ma, Karin, en twee vriendinne, Jani en Julandi, het Jacques ontvang en hom met allerhande vrae gepeper – van sy vaardigheid in die kombuis tot hoe skoon sy hande is.

Maar op die ou end van die dag was hul borrelende persoonlikhede nie genoeg om Jacques te oortuig om Rozel uit te vra nie. “Ek was nie te teleurgesteld nie,” vertel Rozel. “Ek het ingeskryf met die wete dat net een vrou gekies kan word. Die ervaring was betekenisvoller as die keuse wat Jacques moes maak.”

En het dié Wellingtonner Jacques na afloop van die verfilming probeer opspoor? “Nee, ek het nie. Ek is iemand wat vorentoe beweeg en nie terugkyk nie. Ek wens hom alle voorspoed toe vir die toekoms.”

[caption id="attachment_132571" align="alignnone" width="600"]Nou is die vraag op almal se lippe natuurlik: Het die romanse tussen Jacques en Abigail geblom? Nou is die vraag op almal se lippe natuurlik: Het die romanse tussen Jacques en Abigail geblom?[/caption]

Nou is die vraag op almal se lippe natuurlik: Het die romanse tussen Jacques en Abigail geblom? “Ons het mekaar weer gesien en ’n bietjie uitgegaan,” verklap hy, “maar ek het gevoel ons pas nie so goed bymekaar soos ek sou wou hê nie. Sy is ’n baie oulike en cool meisie, maar daar gaan ongelukkig niks meer van kom as vriendskap nie.”