oscar-reeva-main

Die Kaapse beradingsielkundige Vicky Fabricius sê die boodskappe tussen Oscar en Reeva wat Dinsdag in die hof gelees is, dui nie noodwendig daarop dat daar emosionele mishandeling in hul verhouding was nie. Die boodskappe het gehandel oor ’n meningsverskil en is twee weke voor Reeva se dood gestuur. “Vir my bied dit nie genoeg bewyse dat daar emosionele behandeling in hul verhouding was nie; tog is die gedrag wat beskryf is, beslis nie emosioneel gesond nie.” Vicky sê dit verklap eintlik meer oor die aard van die twee se verhouding, en dalk ook watter moeilikheid later in die verhouding kon opduik.

'Dié boodskappe weerspieël die vroeë stadiums van ’n verhouding, wanneer daar dikwels onsekerheid heers.'

“Dié boodskappe weerspieël die vroeë stadiums van ’n verhouding, wanneer daar dikwels onsekerheid heers. Hulle was in daardie stadium nog net ’n paar maande saam; hul toewyding aan mekaar was nog in sy kinderskoene.

“Reeva se weergawe van die moeilikhede wil voorstel dat Oscar onseker is van homself en dat hy sukkel om dié gevoelens in toom te hou, en dan later in die openbaar sy humeur verloor of iets sê waaroor hy later spyt is. Albei weergawes dui daarop hy sukkel om sy emosies in toom te hou.

“Dat Reeva sê wat sy dink van Oscar se gedrag, toon dat sy gemaklik voel om dit te doen. Sy draai nie doekies om oor haar gevoelens nie. “Oscar se weergawe aanvaar in ’n mate verantwoordelikheid vir sy onaanvaarbare gedrag, en hy verklaar dit deur te sê dat hy nie in die regte geestestoestand was om haar reg te behandel nie. Hy voel blykbaar dat haar gedrag op die een of ander manier bydra tot sy dade. Dit blyk dat hy vasbeslote is om hul verskille op te los. “Die boodskappe vertel die verhaal van twee mense wat mekaar nog leer ken, nog leer wat hul maat nodig het en wil hê, nog hul behoeftes en gevoelens in die verhouding leer uitdruk en nog bang is om hart oop te maak ek hul kwesbare kant wys.”

Sien emosionele mishandeling in jou eie lewe raak

Vicky sê dit is belangrik om te besef dat mense oor die algemeen dink aan mans as die mishandelaars en vroue as die slagoffers, maar dit is nie altyd die geval nie. Dit is baiekeer die onsekerheid en emosionele onvolwassenheid van albei maats wat bydra tot ’n verhouding waarin emosionele mishandeling gebeur.

Volgens Vicky is daar vyf tekens van emosionele mishandeling in ’n verhouding:

  1. Beherende gedrag, soos om jou van jou familie en vriende weg te hou. Die persoon het ook dikwels ’n probleem met iemand wat jy respekteer of van wie jy hou.
  2. Die persoon praat neerhalend met hul maat.
  3. Die persoon is nukkerig of dikmond.
  4. Die persoon toon manipulerende of dreigende gedrag.
  5. Jy is bang om binne die verhouding openlik ook jou gevoelens te praat.

  • As jy vermoed jy word emosioneel mishandel, kan jy Lifeline se tolvry hulplyn bel by 0800-150-150.