Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, het Sondagoggend aan Huisgenoot gesê daar is nie enige verslae wat kan bevestig dat Oscar sy polse gesny het nie.

“Oscar het geroep uit sy sel nadat hy van sy bed afgeval het,” sê Nxumalo.

Nxumalo wou nie sê wat Oscar se beserings is nie “want dit is medies-verwante inligting en volgens wet mag ’n persoon se medies-verwante inligting nie blootgelê word nie”.

Hy het wel bevestig Oscar is gister na die Kalafong-staatshospitaal in die weste van Pretoria geneem. Oscar is Saterdag laatmiddag weer teruggeneem na die Kgosi Mampuru II-gevangenis waar hy tans sy vonnis van ses jaar vir die dood van sy meisie, Reeva Steenkamp, uitdien.

Rapport het vanoggend berig ’n medegevangene wat naby Oscar se sel in die hospitaalvleuel van die tronk is, het gesê die beserings aan Oscar se polse is selftoegedien.

Twee bewaarders het ook aan City Press bevestig lemmetjies is in Oscar se sel gekry nadat hy hospitaal toe geneem is.

Veiligheidswagte by die hospitaal het aan Rapport gesê Oscar het “slegte snye aan sy polse gehad en dokters was heeltyd daarmee besig”. Anneliese Burgess, familiewoordvoerder van die Pistoriusse, het Sondag aan Huisgenoot gesê die familie gaan nie in die stadium kommentaar lewer nie. Sy het alle navrae na die departement van korrektiewe dienste verwys. Volgens Rapport is Oscar reeds in die moeilikheid by die tronk nadat ’n ondersoek begin is omdat bewaarders drie weke gelede glo ’n skêr, voorskrifmedisyne en “toksiese pille” in sy sel gekry het. Oscar se broer, Carl, het intussen in ’n boodskap op Twitter gesê dit gaan “onder die omstandighede” goed met Oscar ná hy hom vandag gesien het. Carl het die gerugte dat sy broer sy eie lewe probeer neem het, afgemaak as onwaar en sensasioneel. "Hy het in sy sel geglip en homself beseer, niks ernstigs nie," het Carl gesê.