• Pistorius is 'n man wat wapens ken en bekend is met die ammunisie wat hy gebruik het, sê regter Steven Majiedt.
  • Hy het vier skote gevuur, nie net een nie, sê regter Elizabeth Baartman.
  • Daar is geen plek in daardie toiletvertrek om weg te kruip nie, sê regter Eric Leach.
"Ek stem saam iemand sal kan sterf"

Adv. Barry Roux het so 'n oomblik stil geraak en toe gesê: "Ek stem saam iemand sal kan sterf as hy vier keer deur 'n deur geskiet word. Maar daar moet in ag geneem word wat in sy gedagtes aangegaan het."

Dìt is van die gesprekke wat vanoggend plaasgevind het tussen die vyf regters wat oor Pistorius se lot moet beslis, adv. Gerrie Nel, wat wil hê Oscar moet aan moord skuldig bevind word en Barry wat alles in sy vermoë wil doen om seker te maak sy kliënt gaan nie weer tronk toe nie.

Oscar is op 19 Oktober 2015 vrygelaat nà 'n jaar in die tronk.

Steven het aan Barry gesê dit is belangrik om kaptein Chris Mangena, vuurwapenkenner, se getuienis in ag te neem. Hy het bevind Reeva was naby aan die deur; sy het gestaan en dat Oscar, al was hy op sy stompies, gemik het vir liggaamsdele waar skote noodlottig kan wees.

Gerrie het geargumenteer dit maak nie saak of Oscar geweet het dit is sy meisie Reeva Steenkamp agter die deur nie. Die feit is dat hy moes geweet het as hy op die deur skiet, is daar 'n moontlikheid dat iemand kan sterf.

Die saak duur voort.

- Hilda van Dyk