ANDERS as wat Oscar Pistorius getuig het, was die tydskrifrak lángs Reeva Steenkamp toe sy geval het nadat hy haar geskiet het.

So het Roger Dixon, ’n getuie vir die verdediging, vanoggend in die hof gesê.

Roger het verwys na ’n foto waarop ’n mens ’n bloedsmeersel kon sien wat deur die tydskrifrak veroorsaak is.

Oscar het in sý getuienis gesê die rak was nie daar toe hy die toiletdeur afgebreek het om by Reeva uit te kom nie.

“Sê jy dus nou die beskuldigde is verkeerd?” het aanklaer Gerrie Nel gevra. “Jy is [dan] sý getuie.”

“Toe die oorledene val, was die tydskrifrak daar,” het Roger, ’n gekwalifiseerde geoloog, gesê.

Reeva se ma, June, het afgekyk toe daar ’n foto van die bebloede toilet gewys is. ’n Vrou wat langs haar sit, het haar rug vertroostend gevryf.

- Sapa