Probeer ET kontak met ons maak? Daardie karaktertjie met die gloeiende vinger uit Steven Spielberg se 1982-fliek, ET the Extra-Terrestrial, wou altyd huis toe bel. Nou wil dit voorkom ruimtewesens wil dalk aarde toe bel.

"Misterieuse en kragtige radiogolwe" is uit die diepruimte ontvang, het wetenskaplikes gister onthul. Die bestaan van hierdie golwe is eers sowat ’n dekade gelede ontdek.

Die herhalende pulse kom van ver anderkant die Melkweg, volgens ’n studie wat pas in die vaktydskrif Nature gepubliseer is.

Lees ook: Geheimsinnige ‘vrou’ op Mars gewaar

In September 2013 het ’n span wetenskaplikes aangekondig hulle het moontlik lewe ontdek wat deur die Perseïdes – ’n jaarlikse meteoorreën – in die stratosfeer beland het.

Die span onder leiding van prof. Milton Wainwright van die Universiteit van Sheffield het tydens die Perseïdes ’n lugballon opgestuur om lewe te soek. Die lewe sou dalk saam met die Perseïdes hier aankom.

Wainwright het gesê hulle het ’n diatoom-fragment en “ander onbekende entiteite gevind”. Dit is met die lugballon gevind toe dit 25 km bo die aarde was. (Die ruimte is bo 100 km).

’n Diatoom is ’n meersellige organisme wat effens groter as ’n bakterie is.

’n Klompie jaar gelede het dr. Richard Hoover, ’n voormalige werknemer van Nasa, dieselfde aansprake oor ander lewensvorme gemaak.

Hy is wêreldwyd deur wetenskaplikes gekritiseer en sy navorsing word nie deur sy portuurgroep aanvaar nie.

Lees ook: Vyf belangrike dinge oor die soektog na ruimtewesens

Nou beweer Peter Scholz, van die McGill-ruimte-instituut aan die McGill-universiteit in Montreal, Kanada, hulle het verlede jaar, toe hulle deur data gesif het, op hierdie pulse afgekom.

Eers wanneer die oorsprong van hierdie pulse vasgestel kan word en uit watter sterrestelsel dit kom, sal die eienskappe daarvan verstaan kan word, sê Jason Hessel, van die Universiteit van Amsterdam, wat die artikel saam met Peter geskryf het.

In hierdie stadium bespiegel navorsers dat dit van ’n “eksotiese voorwerp” af kom.

BRONNE: NATURE.COM, YAHOO.COM, PHYS.ORG, DAILYCALLER.COM, INTERNETARCHAEOLOGY.ORG/SAUFOR

– Pieter van Zyl

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Ons kruip weg vir veiligheidspolisie,’ vertel vasgekeerde SA gesin angsbevange uit Oman

Talle diere vrek ná hul vergiftigde karkas in Krugerwildtuin vreet

Jong en gewilde sport aanbieder dagvaar vir miljoene oor naakvideo

Internet gaande oor hondjie met draadjies

Pragfoto’s: ‘Hougie is romanties verby,’ verklap die Blitsbok se nuwe liefie

Slegte nuus vir spoedvrate wat boetes ontduik