Prinses Diana van Brittanje het glo dagboek gehou van die koninklike familie se seksgeheime. Daar word nou gereken sy is vermoor om te verhoed dat die dagboek uitgegee word.

Diana het glo intieme besonderhede neergeskryf oor prins Charles se sekskapades met Camilla Parker-Bowles, sy destydse minnares met wie hy nou getroud is. Diana het dit glo begin doen toe sy besef haar huwelik met die prins is op die rotse. Sy het blykbaar ook besonderhede oor die seksuele gewoontes van ander familielede aangeteken.

Alan Power, ’n ondersoekende skrywer, het hiervan uitgevind terwyl hy navorsing gedoen het vir sy boek, The Princess Diana Conspiracy. Hy glo die onthullende dagboek is nou by ’n vriend wat dit dalk oorsee gaan uitgee.

Hy het aan die koerant Daily Star gesê: “Dit kan die monargie in gevaar stel.”

Diana wou glo die geskrifte gebruik om ná haar egskeiding toegang te verkry tot haar seuns, William en Harry. Sy en Charles is in 1996 geskei en sy is toe ontneem van die titel koninklike hoogheid.

Agttien maande nadat sy in ’n motorongeluk in Parys, Frankryk, gesterf het, het iemand by die paleis ingebreek en die dagboek gesteel. Dis nie weer gesien nie.

Alan glo Diana is vermoor weens die gevolge wat haar onthullings op die koninklike familie sou hê as dit uitgegee word.

Hy het gesê: “Die dossier was gevaarlik. Dit het die monargie direk bedreig. Daarin het gestaan waarvan Charles in die bed hou, met wie hy verhoudings gehad het, en wat hy met Camilla aangevang het. Dit bevat ook stukke oor ’n senior koninklike en ’n manlike huiswerker.”