Kim Kardashian het glo haar verloofring gekies en geweet Kanye West gaan haar die jawoord vra.

Die werklikheidstelevisiester se kêrel het haar Maandag – op haar 33ste verjaardag – gevra om te trou, maar dit lyk of die brunet geweet het wat kom, want sy het die spoggerige 15-karaat diamantring gekies.

“Kim het haar eie verloofring gekies,” het ’n bron aan Radaronline.com gesê. “Sy het vir Kanye gesê hy moet die ring van Lorraine Schwartz koop omdat sy mal is oor die juwelier se diamante. Sy het geweet hy gaan haar vra om te trou, maar nie hoe wanneer dit sou gebeur nie.”

Die ster van Keeping Up with the Kardashians se ring is glo tussen R70 en R80 miljoen werd omdat die diamant perfek gesny is, volgens Adelaide Polk-Bauman, ’n kenner in juweliersware. Die diamantkenner het aan die koerant New York Daily News gesê: “Dis buitengewoon skaars. Baie min plekke in die wêreld het sulke diamante.”

Kim se vorige verloofring – wat haar eksman Kris Humphries in 2011 vir haar gegee het – is glo R20 miljoen werd. Dit het ’n diamant van 16,2 karaat. “Kanye het na meer as 20 diamante gekyk voor Kim eindelik die ring goedgekeur het,” sê ’n bron. “Die diamant is foutloos en skitter meer as Kim se vorige ring.”

Kanye het Kim, die ma van sy vier maande oue dogter, North, die jawoord gevra deur die AT&T Park se bofbalstadion in San Francisco te huur. Die rapper het Kim se vriende en familie genooi na die geleentheid, wat ’n vuurwerkvertoning ingesluit het.