Tanay Jackson, die dogter van Michael Jackson se broer Tito, sê Paris (15) het ’n oordosis pille gedrink en haar polse gesny om in opstand te kom teen die “marteling” van Katherine (83) se onderdrukkende reëls en sterk oortuigings as ’n Jehovasgetuie. Tanay het volgens die koerant The Sun gesê: “Paris was ongelukkig by haar ouma en het baie stres ervaar. Daar is huisreëls en nie almal wil dit volg nie. Ek verstaan wat sy moes deurmaak. Ek weet hoe dinge is met my pa se familie.” Paris, wat steeds in die hospitaal aansterk ná die voorval, en haar broers, Prince (16) en Blanket (11), bly sedert hul pa se dood in Junie 2009 by Katherine in Calabasas, Kalifornië. Regter Mitchell Beckloof het egter gister tydens ’n verhoor oor Michael se boedel beslis hy gaan nie ander voogde aanwys ná Paris se selfdoodpoging nie. Intussen het Paris ’n hegte verhouding met haar ma, Debbie Rowe, begin bou. Debbie het reg op toesig laat vaar toe sy in 1999 van Michael geskei. Verder beweer Paris se peetpa, die Britse akteur Mark Lester, hy is eintlik haar en Prince se biologiese pa. Jackie, Marlon, Tito en Jermaine Jackson het nie gister, op die vierde herdenking van hul broer se dood, verwys na die omstredenheid rondom wie Paris se pa is nie, maar net aan TMZ gesê: “Vandag, vier jaar gelede, het ons een van die grootste musikante, vermaakkunstenaars en ikone verloor wat die wêreld nog geken het. Vir ons was Michael eerstens ons broer. Ons dra altyd sy gees saam met ons, ons is lief vir hom en mis hom elke dag.”