Haar en haar kinders se lewe is ’n lewende hel. En dit alles oor raserige, onbedagsame bure wat in twee afsonderlike wooneenhede in ’n kompleks in Benoni aan die Oos-Rand woon.

[caption id="attachment_118539" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto: Pexels Foto ter illustrasie. Foto: Pexels[/caption]

Karin Meyer*, ’n opleidingsbeampte by ’n myn, het die “fout” gemaak om ’n buurman oor die kole te haal toe hy met sy motor oor sy en haar parkeerplek stop.

“Ek moes seker maar my mond gehou het,” meen sy nou. “Maar hoekom?”

Sedert 6 Januarie word Karin na bewering op elke manier denkbaar geteister.

“Die aanslag van geraas (waar die bure byvoorbeeld deurnag raas of verf en meubels rondstoot) het ’n geweldige negatiewe invloed op my en my twee minderjarige kinders. Die een het selfs onlangs angsaanvalle ervaar,” vertel sy aan Huisgenoot.

“Die mense kuier byvoorbeeld oor-en-weer, vloek en raas enige tyd van die week deurnag tot die volgende oggend sonder dat daar teen hulle opgetree word. Hulle gaan slaap eers wanneer ek en my kinders opstaan vir werk en skool.”

Op Vrydag 29 Januarie het die mense glo heelnag lawaai.

Karin het die opsigter om middernag gekontak, en dié het hulle aangespreek. Hulle het hulle egter nie aan die versoek gesteur nie en na bewering eers Saterdagoggend om 11:00 ophou lawaai.

“Ek het al verskeie klagtes by die beheerliggaam ingedien, maar is skielik verlede week meegedeel ek mag nie meer die beheerliggaam kontak nie omdat ek net ’n huurder is.

Dit wil vir my lyk of die beheerliggaam net weer probeer om die probleme te omseil.

Die bure het byvoorbeeld gisteraand weer van middernag so geraas en gekap dat ek sekuriteit moes kontak om hulle stil te maak.

Lees ook: Kan jy iemand anders se rumoerige huurders uitskop?

“Om en by vyfuur het ’n gekap my wakker gemaak. Ek glo dis als moedswillig, want daarna was hulle weer doodstil. Ek kon egter nie weer slaap nie en het dus die hele nag minder as vier uur slaap gehad terwyl hulle vanoggend rustig verder slaap.”

Hoewel sy “uit pure moedeloosheid” kennis gegee het dat sy gaan trek, voel sy tog sulke mense moet aanspreeklik gehou word, veral omdat sy ook hope bewyse van hul lawaai het: klankgrepe en foto’s op haar selfoon.

Sy het iemand gaan sien van die huurhuistribunaal in haar gebied.

“Hy het aandagtig geluister en voorgestel ek vra die metropolisie se hulp, maar nadat ek verder vertel het, het hy my vorms gegee om in te vul en my ingelig oor my regte.

Hy het ook verduidelik wat hul mandaat is en dat ek nie ’n saak teen my bure kan maak nie,” vertel sy.

Dinge het nou so erg geraak dat sy en haar twee dogters elders in haar motor moes gaan slaap, net sodat hulle die volgende dag uitgerus genoeg sou wees om hul verpligtinge te kan nakom.

Is die bron van die geraas binne die deeltitelkompleks? Dan geld die Wet op Deeltitelskemas.

Artikel 44(1)(e) van die wet sê duidelik elke eienaar het die reg om ongestoord te woon. Niemand mag ’n steurnis veroorsaak in sy eie eenheid, ’n eksklusiewe gebied of op ’n gemeenskaplike plek soos in ’n tuin nie, sê Letitia Watson, Huisgenoot se Geldsake-raadgewer.

Geen eienaar mag toelaat dat iemand anders sy eiendom of die deel waarvan hy uitsluitlike gebruik het, hoegenaamd gebruik op ’n manier wat vir ander inwoners steurend sal wees nie.

Lees ook: Waarskuwing: Swendelaars hou hul lyf huisagent

Regtens mag die eienaar van ’n woonstel of meenthuis ook nie die eiendom gebruik vir enigiets buiten dit wat die deeltitelplan bepaal nie.

Die meeste deeltitelplanne dui aan dat die doel van die kompleks wooneenhede is; dan kan dit vir niks anders gebruik word behalwe om daar te bly of dit te verhuur nie.

Tog laat die wet effens ruimte toe vir ’n onderneming, mits al die eienaars in die kompleks dit goedkeur.

Jy kan by die trustees van die beheerliggaam kla as iemand oortree. Die trustees sal dan ondersoek instel en ’n waarskuwingsbrief aan die oortreder rig.

Die beheerliggaam is veronderstel om op te tree teen ’n eienaar wat geraas maak.

In sommige komplekse word die oortreders beboet. In die geval van herhaalde oortreders kan die saak ook opgelos word met arbitrasie ingevolge die wet se bestuursreël 71. Hier sal die beginsel van “redelikheid” weer geld.

Hoe meer bewyse van uitermate geraas die klaer het, hoe beter die kans op sukses, in ’n hof of by ’n arbitrasieverhoor.

Die beste bewys is ooggetuies wat mondelinge getuienis sal lewer.

Google “Rental Housing Tribunal South Africa” om jou naaste tribunaal te vind.

* Skuilnaam

– Pieter van Zyl

Ander stories op Huisgenoot.com:

Zephany Nurse se biologiese ma huil gebroke in hof

Studente van alle rasse bid saam by Tuks

Afrikaanse sangeres sterk aan ná groot knieoperasie

Wat jy alles moet weet oor meningitis-uitbreking op Mosselbaai