Tanishq Abrahams is op vier tot Mensa toegelaat. Net ses jaar later het hy matriek in Sacramento, Kalifornië, voltooi. En hy mik hoog. “Ek wil graag ’n wetenskaplike of die president van die Verenigde State wees,” sê hy vasbeslote. “Ek sal die land gesonder en doeltreffender maak.”

Hy het tuisonderrig by sy ouers ontvang nadat hy ’n groter uitdaging gesoek het. “Hy het van kindertuinvlak gespring tot sowat gr. 3,” sê sy ma, Taji, trots.

“Wanneer jy my iets gee, duik daar inligting oor daardie onderwerp op,” verduidelik hy hoe sy brein werk. “Ek weet nie wat dit is nie, maar dit is hoe dit by my werk.”

Tanishq het ’n supernova ontdek deur ’n aanlyn astronomie-projek, Zooniverse.

Hy het sy hoërskooldiploma tydens ’n seremonie by die California Automobile Museum in Sacramento ontvang. Hy beplan om sy mede-graad aan die American River-kollege te verwerf en dan volgende jaar aan die Universiteit van Kalifornië in Davis te studeer.

Wat is Mensa?

Dit is die oudste en grootste vereniging vir mense met ’n hoë IK. Dit is sonder winsbejag en oop vir enigeen wat in standaard-IK-toetse of ander goedgekeurde intelligensietoetse die 98ste persentiel of hoër haal.

Bekende lede

  • Die aktrise Geena Davis.
  • Martin Cooper, wat gereken word as die uitvinder van die selfoon.
  • Die akteur Nolan Gould, wat Luke in Modern Family speel.
  • Die akteur Michael Muhney, wat in Disconnect en Veronica Mars gespeel het.
  • Die aktrise Ashley Rickards, wat in One Tree Hill, Ugly Betty en Entourage gespeel het.

Beproef hier die Mensa-toetse.

- Megan Bursey

Bronne: newsday.com, mensa.org.uk/za, wikipedia.org

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.