Die skildklier sit aan die basis van die brein en kom sit by geboorte aan die voorkant van die nek.

“Die skildklier vervaardig hormone wat die spoed reguleer waarteen prosesse in die liggaam plaasvind, soos ’n termostaat help dit hartklop, liggaamstemperatuur en metaboliese tempo reguleer,” sê dr. David Segal, ’n pediatriese endokriene spesialis van Johannesburg.

Al het net sowat een uit elke 300 kinders skildklierprobleme, sy funksie in ag genome, kan dit rampspoedig wees as daar met werking van die kind se skildklier iets fout gaan.

Probleme en simptome

Dr. Segal sê die skildklier kan by kinders óf onderaktief óf ooraktief wees. Dit kan ook net opswel, ’n toestand wat as kropgeswel (goiter) bekendstaan.

“ ’n Onderaktiewe skildklier vertraag die metabolisme; dit veroorsaak moegheid, slaperigheid en hardlywigheid. Dit kan ’n kind koud laat kry wanneer ander warm kry. Dit kan ook groei vertraag en kort lengte en beperkte gewigstoename veroorsaak.”

Maar jy moet versigtig wees om te aanvaar jou oorgewig kind het skildklierprobleme, sê dr. Segal. “Minder as 1 persent van oorgewig kinders het ’n skildklierprobleem. Skildkliertoetse by sulke kinders kan dalk ’n abnormaliteit voorstel, maar dit keer gewoonlik terug na normaal met gewigsverlies.

“ ’n Ooraktiewe skildklier maak die metabolisme vinniger. Kinders kan ly aan hiperaktiwiteit, veelvuldige stoelgange, veelvuldige urinering, slaapsteuring, rusteloosheid, warm kry, verhoogde eetlus en soms gewigsverlies. Die skildklier kan opswel en die oë kan uitpeul. Daar kan ook bewing wees en soms hartkloppings,” sê dr. Segal.

As gevolg van hierdie simptome stel hy voor dat kinders met aandaggebreksteurings hul skildklier laat ondersoek voor hulle Ritalin of ander medikasie begin neem.

’n Aparte maar baie ernstige skildklierprobleem is aangebore hipotireose, wat beteken dat dit by geboorte al presenteer. “Dit is die algemeenste voorkombare oorsaak van breinskade; daarom moet alle pasgebore babas se skildklier ondersoek word. Ouers moet daarop aandring.” Kanker van die skildklier is seldsaam by kinders.

Diagnose en behandeling

Skildklierprobleme word deur simptome gediagnoseer; in 90% van gevalle met ’n fisieke ondersoek en bloedtoetse. “As skildklierprobleme vermoed word, gaan daar bloedtoetse uitgevoer moet word om die funksie van die skildklier te assesseer. Teenliggaampies teen die skildklier word ook gemeet om vir die algemeenste oorsaak te soek, wat ’n outo-immuun skildklieraanval is.” Dr. Segal verduidelik dit is wanneer die immuunstelsel om die een of ander rede teen die skildklier reageer. “Duur toetse soos ultraklank-skanderings moenie sonder meer gedoen word nie. Dit is beter om eers na ’n spesialis verwys te word.”

Hy sê sodra die diagnose gemaak is, sal die toepaslike medikasie in tabletvorm voorgeskryf word en gereelde bloedtoetse gaan gebruik word om oor tyd klein aanpassings aan die dosis te maak. Ongelukkig “is daar nie boererate vir skildklierprobleme nie”.

Oorsake

Die algemeenste oorsake van skildklierprobleme is outo-immuun van aard. Dit is wanneer die persoon se immuunstelsel geaktiveer is om óf die skildklier te stimuleer óf dit te vernietig. In sulke gevalle is daar gewoonlik ’n familiegeskiedenis van sulke probleme, gewoonlik aan moederskant, sê dr. Segal.

Verskil die simptome tussen volwassenes en kinders?

“Nie veel nie. Die grootste verskil in simptome is by kinders met ’n onderaktiewe skildklier; hulle groei is vertraag. Volwassenes is volgroeid, dus gaan daardie simptoom hulle nie raak nie,” sê dr. Segal.

-Dalena Theron

Bron: Dr. David Segal, pediatriese endokriene spesialis, 011-726-0016.