DIS verby tussen prins Harry en Chelsy Davy, lees ons nou die dag toe in die koerante. Sy’t hom gepos. Sy’s keelvol vir die Engelse weer, moeg vir die koninklike verpligtinge, sat vir die eise wat die weermag aan haar rooikop-Romeo stel.

Nou toe nou. Ons weet van beter. Terwyl die Britse media lustig berig het oor die einde van die liefde tussen die bloubloed-kêrel en sy blonde bom, het ons fotograaf Harry (25) en Chelsy (24) gekiek waar hulle ’n hond uit ’n bos kuier in die ultra-modieuse Grand Café & Beach Restaurant in die Kaapstadse Waterkant.

Die prins, wat saam met prins William hier op ’n liefdadigheids- en Wêreldbeker-besoek was, het  die dag voor Engeland se deurslaggewende kragmeting met Slowenië die winterson en seelug saam met Chelsy en ’n onbekende vriendin geniet.

En as iemand dalk nog skepties was: Net ’n paar uur later is hulle weer gesien waar hulle oor ’n etenstafel in Kampsbaai se Roundhouse Restaurant vir mekaar koer.

Die aand het duidelik aan hulle behoort, vertel ’n ooggetuie. Die drankies het gevloei en Chelsy het “nogal vrolik” gelyk. “Sy het alte liefie-diefie met Harry geraak. Dit het beslis nie vir my gelyk asof dit verby is tussen hulle nie.”

Die Britse media het hoog opgegee oor hoe Chelsy, noudat sy klaar regte geswot het, Londen vir ’n sonniger Afrika gaan verruil. “Sy het besluit om ’n pos as prokureur in Suid-Afrika te aanvaar,” beweer ’n bron.

Harry en Chelsy se verhouding is wel al deur sy stomende aan-tye en stormagtige uit-tye, en verlede jaar was hulle ses maande lank uit toe Harry op sy weermagloopbaan gekonsentreer het. Maar in Julie het die liefdesvlam weer hoog gebrand en het die prins so te sê ingetrek by die woonstel van £1,65 miljoen (sowat R18 miljoen) wat Chelsy se pa, Charles, vir haar in die deftige Londense woonbuurt Belgravia gekoop het.

Sien die eksklusiewe steelfoto's van Harry en Chelsy hieronder.