Drie gesinslede van Witbank is dood aan koolstofmonoksiedvergiftiging wat blykbaar deur hul verwarmer veroorsaak is, het die polisie in Mpumalanga Dinsdag gesê.

Seth Offel (38), sy vrou, Rose (30), en hul driejarige dogter, Roseth, is op 16 Julie op hul slaapkamervloer dood aangetref, het sers. David Ratau gesê. Die paartjie se vierjarige seun is ongedeerd in die huis gevind.

“Die pa het die babadogtertjie in ’n knielposisie op die hoofslaapkamervloer vasgehou, terwyl sy vrou langs hulle gelê het,” het hy gesê.

Die voorval het blykbaar op 12 Julie in die aand of vroeg op 13 Julie plaasgevind.

’n Kollega van die 38-jarige wiskunde-onderwyser en predikant wat hom sedert 13 Julie probeer kontak het, het op 16 Julie na die huis gegaan. “Hy het drie dae aan die voordeur geklop en die man probeer bel, maar daar was nie antwoord nie,” sê David.

Toe die familievriend om die huis stap, het hy die familie deur die kamervenster op die vloer sien lê en die polisie gebel. “Die drie liggame was reeds in die vroeë stadium van ontbinding,” het David gesê. “Die vierjarige seuntjie het gebewe toe ons hom vind. Dis onbekend hoe hy oorleef het, maar die polisie het gesien daar was kos in die huis.”

Die seuntjie is na ’n maatskaplike werker geneem. Daar is bloedmonsters geneem om die oorsaak van hul dood vas te stel.

- Sapa