Debbie Rowe beweer Michael Jackson se dokters het meegeding om “beter dwelms” aan hom te verskaf en so sy verslawing aangevuur.

Die voormalige verpleegster, wat drie jaar lank met die koning van pop getroud was en die ma is van sy twee oudste kinders, Prince (16) en Paris (15), het Michael se mediese adviseurs daarvan beskuldig dat hulle sy verslawing aangevuur het deur mekaar te probeer oortref.

Debbie het op Woensdag 14 Augustus in Los Angeles getuig in die Jackson-familie se hofsaak teen die konsertpromotors AEG Live; hulle voer aan AEG is verantwoordelik vir Michael se onregmatige dood.

Debbie het gesê dr. Arnie Klein en dr. Steven Hoefflin het gekyk wie Michael van “beter” dwelms kon voorsien, berig die webtuiste MailOnline.

Sy het gesê: “Michael het ’n baie lae pyndrempel gehad en sy vrees vir pyn was ongelooflik. Ek dink dokters het hom op daardie manier misbruik.”

Michael het hulle na bewering vertrou om medisyne aan hom voor te skryf, maar hulle het nie in sy beste belang opgetree nie. Hulle het aanhoudend probeer hom mekaar te oortref deur hom sterker dosisse van pynstillers soos Diprivan en Demerol te gee.

Sy het gesê: “Hierdie idiote het die hele tyd heen en weer gegaan en was nie oor hom besorg nie. Toe het dr. Conrad Murray ingeklim en hom doodgemaak. Die enigste dokter wat ooit iets gedoen het, die enigste dokter wat vir Michael omgegee het, was Allan Metzger. Ek was waarskynlik een van die enigstes wat vir MJ nee gesê het.”

Die Jackson-familie voer aan AEG Live het Murray op nalatige wyse in diens geneem en nie sy werk kontroleer nie. Hy dien tans vier jaar tronkstraf vir manslag uit nadat Michael in 2009 dood is weens die dodelike dosis propofol wat hy hom toegedien het.