Die soektog vir die vermiste vliegtuig duur voort

Paul Weeks (39), ’n meganiese ingenieur van Perth in Australië, was op pad Mongolië toe en sou net in- en uitvlieg om te gaan werk. Dit was sy eerste skof by die nuwe werk, het die MailOnline berig.

Paul se vrou, Danica, het aan die TV-kanaal 9News National in Perth gesê haar man het sy trouring en horlosie by haar gelos om vir sy seuns, Lincoln (3) en Jack (11 maande), te gee indien iets met hom sou gebeur.

“Hy het gesê: ‘As iets met my gebeur, moet my trouring gaan aan die eerste seun wat trou en my horlosie na die tweede een.’”

Danica het tydens die onderhoud gesê sy bid steeds vir ’n wonderwerk en wag op nuus oor haar man.

Paul, ’n oudsoldaat, is in Nieu-Seeland gebore. Hy het saam met sy gesin na Perth verhuis nadat hulle huis in Christchurch tydens verwoestende aardbewings vernietig is.

Danica het vertel dat Paul voor sy vertrek baie gesinsfoto’s geneem het. Sy het aan WA Today gesê sy moet bly hoop nadat Paul saam met 227 ander passasiers en 12 vlugpersoneel aan boord van die Maleisiese vlug MH370 verdwyn het.

Die Boeing het net skielik van die radar verdwyn en reddingspogings en soektogte na die vliegtuig of wrakstukke is vier dae nadat die vliegtuig verdwyn het steeds onderweg. Die vlug van Malaysia Airlines was Saterdag van Kuala Lumpur na Beijing op pad toe dit skielik spoorloos verdwyn het.

“Ek kan nie hoop verloor nie. Ek wil so graag hê hy moet weer deur die deur stap. Ek wil hom net een laaste keer vashou . . . ek sien hom oral in die huis.”