Melissa George het die “totaal versinde” bewerings dat sy haar eie kinders probeer “ontvoer” het, ontken. Die voormalige ster van The Good Wife en Grey's Anatomy en die Franse sakeman Jean-David Blanc se paadjies het geskei nadat sy verlede September in die hospitaal beland het met kneusplekke aan haar gesig ná ’n onderonsie by hul huis in Parys.

  Melissa het nooit oor die voorval gepraat nie, maar volgens die Daily Telegraph het die eerste hofstryd – oor die beweerde aanranding – verlede maand geëindig toe ’n regter albei partye aan aanranding skuldig bevind het. Hul albei het appèl aangeteken.
Dit het intussen aan die lig gekom dat die voormalige paartjie baklei oor regsbeperkings wat hul seuns, Raphael (3) en Solal (1), se bewegings betref. Jean-David het aanklagte van poging tot ontvoering aanhangig gemaak, het sy prokureur, Jacqueline Laffont, bevestig nadat Melissa ná die aanval in September met hulle na Amerika toe wou gaan vir ses dae. Die grenspolisie het glo vir haar en die kinders van ’n privaat vliegtuig gelei wat Russiese vriende vir haar geleen het, kort voor dit sou opstyg vanaf Le Bourget, ’n klein lughawe naby die Charles de Gaulle in Parys.
Die aktrise se verteenwoordiger het egter in ’n eksklusiewe verklaring aan die Australiese tydskrif New Idea gesê: “Die bewerings dat Melissa haar kinders wou ontvoer, is versin.” “Ek neem nie hierdie bewerings ligtelik op nie en dis in my prokureurs se hande,” het Melissa bygevoeg, berig Daily Mail Online. “Ek ontken hierdie bewerings en al my aksies, vandag en altyd, sal in die beste belang van my seuns, Raphael en Solal, wees.”
Die 40-jarige ster het glo aan New Idea gesê sy was onbewus daarvan dat sy nie mag vlieg nie, en dat die reis om die kinders na Australië te neem al ’n maand tevore beplan en deur Jean-David goedgekeur is. Sy beskuldig hom daarvan dat hy haar loopbaan in die wiele wil ry deur haar te verbied om buite sy geboorteland Frankryk met hul twee kinders te reis.

#vogue #tiffany #melissageorge

A post shared by melissa george (@melissageorgeofficial) on

Die paartjie het in 2011 by ’n partytjie ná die Bafta-toekennings ontmoet en hul eerste seun, Raphael, is in Februarie 2014 gebore. Hul seun, Solal, is in November 2016 gebore.

Jean-David het nog nie op die tydskrif se versoek om kommentaar reageer nie.

© Cover Media