Die twee se verhouding is duidelik ernstig, want Bill (67) se minnares kom by hom kuier wanneer sy vrou, Hillary (66), nie by die huis is nie, beweer die Amerikaanse skrywer Ronald Kessler in sy boek The First Family Detail: Secret Service Agents Reveal the Hidden Lives of Presidents. Die egpaar se onderskeie veiligheidspanne werk glo saam om seker te maak Hillary loop nie by haar en Bill se huis in Chappaqua, New York, in haar man se minnares vas nie. Dié daag soms binne minute op nadat Hillary die huis verlaat het, skryf Ronald in sy boek. Dit word op 5 Augustus uitgereik.

Richard Johnson van die Amerikaanse dagblad New York Post het die boek onder oë gehad en as die skrywer geglo kan word, kom en gaan Bill se minnares nes sy wil in sy huis. “Jy keer haar nie, jy nader haar nie, jy laat haar net ingaan,” vertel een bron.

Sy word beskryf as sjarmant en vriendelik. “Op ’n warm dag het sy ’n laehalstenktop gedra en oorgeleun, haar borste was baie ontbloot. Hulle is baie nuut en vol,” vertel nog ’n agent. “Daar is geen twyfel by my dat sy daaraan laat werk het nie.”

Energizer het selfs op ’n kol vir die geheimediensagente beskuit uitgedeel. Sy’s seker soos ’n vars briesie vir Hillary se veiligheidspersoneel, want volgens die skrywer is Hillary so onbeskof met agente dat dit soos ’n straf is om lid van haar veiligheidspan te word.

Bill se verteenwoordigers het nie op die New York Post se versoek vir kommentaar op die boek gereageer nie. En wat was die reaksie van Hillary se woordvoerder, Nick Merrill? “Nog ’n boek?” Nick slaan eintlik nog vure dood oor die gerugte in Edward Klein se opspraakwekkende boek Blood Feud dat die Clintons en Obamas mekaar nie kan verdra nie.

As die jongste gerugte oor ’n skelmpie waar is, sal dit nie die enigste keer wees dat Bill se oog dwaal nie. Hy het voorheen erken hy het ’n affair gehad met Monica Lewinsky (nou 41) toe sy in 1995 en 1996 as ’n student by die Withuis gewerk het. Hy het ook glo al erken dat hy in 1977 – twee jaar nadat hy en Hillary getroud is – een keer met die voormalige model Gennifer Flowers (nou 64) warm geraak het tussen die lakens. Gennifer beweer egter sy was 12 jaar lank sy minnares.

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, MIRROR.CO.UK, HOLLYWOODLIFE.COM, NYDAILYNEWS.COM