Hestelle vertel vir Huisgenoot hoe dit voel om heel eerste uitgestem te word en hoekom daar nie lang trane is nie – net ’n blink toekoms wat wag.

Hoe voel dit om heel eerste uitgestem te word?

Hoewel ek dit aanvanklik as ’n groot teleurstelling ervaar het, is dit steeds ’n groot vreugde om te kan sê ek was een van die top-10-onthoukokke.

Het jy ’n voorgevoel gehad jy en Chloe gaan huis toe?

Ja, hoewel ek heeltyd gehoop het my voorgevoel is verkeerd.

Wat dink jy het verkeerd geloop?

Ongelukkig is daar net nie tyd vir tweede probeerslae nie. As jou kombinasie  smake nie reg is nie – as iets te suur of te soet is – is dit nou maar tyd om huis toe te gaan.

Dink jy ’n ander span het verdien om voor julle te gaan?

Nee. Elkeen het sy tyd en hierdie keer was dit my en Chloe se beurt om te gaan.

Wat sou jy anders doen as jy kon?

Lees, lees en nogmaals lees – veral resepteboeke. ’n Mens kan nooit genoeg weet, oplees of navors nie.

Dink jy jy sou verder in die kompetisie kon kom met ’n ander kinkelkok aan jou sy?

Dalk, dalk nie . . . Ek het my tyd op Kokkedoor met Chloe baie geniet.

Met wie sou jy nog graag wou kook?

Ek dink ek en Chris sou lekker kon saam kook; sy kennis en leiding sou ek ongelooflik baie geniet het.

Wat het jy uit die hele ondervinding oor jouself geleer?

Daar lê nog baie kos maak in my huis voor; dit is wat ek geniet, dis gesellig en dit laat ’n mens toe om in vreugde en samesyn te deel.

Wat is jou gunsteling-oomblik van die hele reeks?

Die reünie (in die heel laaste episode)! Ek kon saam met ’n span kook, nie teen hulle nie, en ek het ook die geleentheid gekry om te bak!

Enige flaters wat nie uitgesaai is nie wat jy met ons kan deel?

Mmm . . .

As al die Kokkedore vir jou ’n uitnodiging sou stuur om by hulle te kom eet, by wie sou jy eerste aan tafel wil sit?

Johnny. Ek dink dit sal ’n asemrowende ete wees!

Hoe kan jou aanhangers kontak met jou behou?

Sommer op my blog, koekiesencream.blogspot.com, of op Facebook by KoekiesEnCream op Instagram by hestellepretorius, of op Twitter by @HestellePret en @KoekiesEnCream.

Christiaan Boonzaier