Die swanger Catherine (31) is verlede Dinsdag by die eksklusiewe materiaal-en-sagtemeubelwinkel Bernard Thorp in Chelsea, Londen, gewaar.

Catherine, wat na verwagting op 13 Julie die lewe gaan skenk, het 45 minute in die winkel deurgebring, op soek na items vir die babakamer by Kensington-paleis. Sy het beige en bruin materiaal gekoop, wat niks oor die geslag van die baba verklap het nie.

“Kate was mal oor al die ontwerpe en het twee gekies. Sy het baie spesifieke idees oor waarvan sy hou,” het ’n bron aan die koerant Daily Star Sunday gesê.

“Die hertogin was sjarmant en baie lieflik. Sy was glad nie aanstellerig nie. Sy het gesê sy het so baie idees noudat sy na die winkel toe gekom het.”

Die inkopietog was net ’n paar uur nadat sy saam met William, die tweede Britse troonopvolger, en sowat 2 000 gaste by die Westminster-abdy die 60ste herdenking van sy ouma koningin Elizabeth II se kroning gevier het.

Catherine het nog net ’n paar koninklike verpligtinge oor voor haar kraamverlof begin. Sy sal ’n nuwe plesierboot, die Royal Princess, by die Southampton-hawe te water laat deur ’n bottel sjampanje oor die romp te breek.

Daarna sal sy Saterdag die Trooping the Colour-seremonie bywoon voor sy ’n spesiale middagete – haar man, William (30) is ’n ridder van die Orde van die Kousband – Maandag by Windsor bywoon.