Prins William se vrou, hertogin Katherine, is as een van die invloedrykste mense ter wêreld aangewys.

Die hertogin, wat bekend was as Kate Middleton voor haar huwelik, het die tydskrif Time se jaarlikse lys van die honderd invloedrykste mense gehaal.

In haar profiel vir die tydskrif skryf Sally Bedell Smith, die skrywer van Elizabeth the Queen: The Life of a Modern Monarch: “Kate Middleton, wie se voorsate in die steenkoolmyne van Durham gewerk het, was ’n gewone universiteitsmeisie met ’n onmerkwaardige lewe in die vooruitsig.

Toe ontmoet sy haar towerprins, word die hertogin van Cambridge en binne twee jaar het sy ’n belangrike figuur op die wêreldverhoog geword.

“Die toekomstige koningin is waardig, dienswillig en kalm, met ’n beskeie onwilligheid om die kollig by haar man, prins William, te steel. As die beskermvrou van ’n toenemende aantal liefdadigheidsorganisasies, het sy die koninklike familie se tradisie van openbare diens aangegryp.

“Haar elegante klerekas is baie gewild en sy gee die Britse modebedryf ’n hupstoot.”

Katherine gaan in Julie die lewe skenk aan haar eersteling en Sally beskryf haar as “deur en deur ’n moderne moeder”.

Sy voeg by: “Ná veranderings aan die wet van manlike eersgeboortereg, gaan Kate se baba, of dit nou ’n seuntjie of ’n dogtertjie is, die derde aanspraakmaker op die troon wees en in die komende dekades die toon aangee vir die Britse monargie.”

- Bang showbiz