Jy kan maar weet die Cambridges se nuwe woonplek op Sandringham gaan die soort huis wees waar dit nie saak maak as vuil koninklike voetjies op rusbanke beland nie . . .

Ná seker een van die gewildste koninklike toere ooit is William terug op die rooi tapyt en alte bedrywig met koninklike afsprake, maar wat het van Catherine geword?

Sy en die kwylende klein George is nêrens te sien nie. Geen wonder natuurlik nie – dit kan nie maklik wees om deftige geleenthede by te woon met ’n baba wat nie die verskil ken tussen ’n spoegdoek en ’n ontwerpersrok nie. Nie dat dit Catherine sommer sal ontsenu nie – ons het mos al gesien hoe vinnig sy ’n spoegmondjie met die hand kan afvee en dan sommer haar hand aan haar rok kan skoonmaak . . .

Kind grootmaak is nie die enigste tuisteskepper-ding waarmee die hertogin haar deesdae besig hou nie. Sy is hard aan die versier en afrond aan haar en William se plattelandse tuiste Anmer Hall. Dis in die ooste van Engeland geleë op die Sandringham-landgoed van William se ouma, koningin Elizabeth.

[caption id="attachment_75409" align="aligncenter" width="600"]Anmer Hall Anmer Hall, besig om opgeknap te word. Foto: geograph.org.uk[/caption]

En natuurlik kan die stomme Catherine nie haar hand aan enigiets waag sonder om die suurpruime te laat skinder nie.

Die antikonklike brigade sanik nou oor die koste van herstelwerk aan die huis (sowat R27 miljoen, maar die koningin betaal daarvoor en nie die Britse belastingbetalers nie), die keuse van dakteëls (dis glo te rooi) en die feit dat ’n sonkamer aangebou is met glaspanele in die dak om ekstra lig in te laat.

[caption id="attachment_75405" align="aligncenter" width="392"]Anmer Hall Daily Mail Dié foto's van Anmer Hall met sy nuwe dak het op die webtuiste van die Daily Mail in Londen verskyn.[/caption]

Maar die wonderlike ding vir my is dat Catherine regtig lyk of sy besig is om vir haar en haar gesin ’n werklike tuiste te skep, ’n plek waar sy die septer kan swaai sonder om haar aan koninklike protokol hoef te steur.

In Londen is die Kensington-paleis die Cambridges se tuiste, maar dit is niks anders nie as ’n koninklike visbak en hulle is daar boonop omring deur wooneenhede waarin ander koninklikes en senior paleispersoneel woon.

In Anmer Hall kan Catherine die soort ma en vrou wees van wie ons ’n skrams blik in Australië gekry het toe sy en haar twee prinse in die goewerneurswoning in Canberra deur paparazzi-fotograwe gekiek is. Catherine het met George gespeel, hom op haar skouers rondgedra en opgewonde in die lug gespring en haar enkels teen mekaar geklap.

Dié foto’s is op versoek van die Kensington-paleis nie in die Britse media gepubliseer nie, maar dit is juis daarop dat ek ’n idee gekry het van die soort mens wat sy is: ’n doodgewone vrou, nes so baie van ons. Maar natuurlik dan ook ’n doodgewone vrou wat op ’n prins verlief geraak het en bereid was om al haar toekomsplanne opsy te skuif om ’n waardige hertogin en in die toekoms prinses en koningin te wees. Ná George se geboorte het die Cambridges koers gekies na haar ouerhuis, waar veral ouma Middleton soos vele oumas voor haar haar dogter touwys gemaak het in die fynere kunsies van nuwe ma wees.

Sy wil dieselfde warm, egte omgewing skep as waarin sy grootgeword het

Ek dink daar’s ook ’n ander rede waarom hulle destyds juis die Middleton-ouerhuis as toevlugsoord gekies het: die warmte en egtheid wat hulle geweet het daar vir hulle wag.

En ek vermoed Catherine wil dieselfde soort huis skep in Anmer  Hall. Sy doen volgens berigte self die aankope vir die huis, en het self by ’n tapytwinkel die kelims van haar keuse gaan uitkies.

Sy is ook by ’n groot  dekorsentrum – Chelsea Harbour – gesien waar sy na ligte en materiaal gekyk het.

Of die dakteëls werklik haar keuse was, betwyfel ek ten sterkste. Daar is sekerlik ’n afdeling in die koninklike huishouding wat verantwoordelikheid aanvaar vir die onderhoud van koninklike wonings.

En om ou houtraamvensters te vervang, is seker ’n noodsaaklikheid en nie ’n luukse nie!

Anmer Hall is luuks vergeleke met die paartjie se eerste tuiste as getroudes, die witgeverfde plaashuis in Anglesey.

Maar met ’n woelige inwoner wat binnekort sy eerste verjaardag vier, en sekerlik planne vir ’n tweede pienkvoet, sal die Cambridge-woning sonder twyfel ’n gemaklike woonhuis wees waar kinders na hartelus kan rondkruip, hardloop en met vuil voetjies op banke kan klim.

Nie iets wat ’n mens sommer in ’n Londense paleis  waag nie . . .

- Arlene

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Daar is min mense wat so baie soos sy van koningshuise oor die wêreld heen weet en daarom is sy Huisgenoot se koninklike kundige.