Prins William sê sy vrou, hertogin Catherine, sou dit nie goedkeur as hy “verslawende” videospeletjies sou speel nie.

Die hertog van Cambridge sê hy sou graag ’n PlayStation wou koop, maar vroulief, by wie hy ’n vier maande oue seun prins George het, sal dit nie goedkeur dat hy sy tyd mors met “verslawende” speletjies nie. William het Maandag in die Bafta-hoofkantoor in Londen geskerts: “Dis uiters verslawend. Ek sou graag een wou koop, maar ek is nie seker hoe my vrou daaroor sou voel nie.”

William (31) het die British Academy of Film and Television Arts (Bafta) se veldtog van stapel gestuur om jong mense te ondersteun wat ’n loopbaan in rolprent, TV en speletjiesbedryf wil volg. Dié projek, Give Something Back, doen ’n beroep op mense in dié bedrywe om jong mense te mentor, en bied ook Prins William-beurse van sowat R164 000 aan om talentvolle jong mense se studie te betaal, ongeag hul maatskaplike agtergrond.

“Vandag, meer as ooit, het jong mense en diegene wat onlangs met hul loopbaan begin het, ondersteuning nodig om hul potensiaal te bereik en sukses te behaal. Give Something Back is ’n spesiale geleentheid vir ons uiters talentvolle beroepslui om ’n bietjie van hul tyd of geld af te staan om by te dra tot Bafta se leerprogram.”

Nadat hy ’n paar van die speletjies op die proef gestel het wat begaafde ontwerpers in Bafta se Young Game Designers Workshop ontwerp het, het William laat hoor: “Ek weet dat ek, ’n geesdriftige maar nuttelose speler, uitsien daarna om die vreemde en wonderlike speletjies te speel wat dié jong mense nog gaan bedink.”