Brittanje se hertogin Catherine het nie opleiding nodig om by die koninklike lewe aan te pas nie. Volgens lady Manning, die vrou van die koninklike paartjie se mentor, sir David Manning, het Catherine self geleer oor etiket en protokol.

“In teenstelling met die algemene opvatting, het die hertogin geen hulp nodig in daardie opsig nie,” het lady Manning aan die Daily Mail gesê.

“Die hertogin stel in alles belang en het geen aanmoediging of lesse in etiket nodig nie. Sy weet self wat van haar verwag word. Ek kan nie van die koningsgesin praat nie, maar ek wens mense wil die hertogin die nodige lof gee waar dit haar toekom!”

Lady Manning, wat rillers onder die naam Elizabeth Ironside skryf, het gerugte ontken dat haar man, ’n amptelike lid van William en Catherine se huishouding wat voorheen ’n onbetaalde raadgewer was vir die prins en sy broer, Harry, gehuur is om vir die hertogin oor protokol in die koninklike gesin touwys te maak. “Ek het gehoor mense sê my man leer haar oor protokol, maar dis onwaar. Hy is ’n mentor.”