Catherine, die hertogin van Cambridge, is aangewys as die grootste invloed wat betref watter skoonheidsprodukte die mense koop, toon navorsing deur Brittanje se grootste aanlynskoonheidshandelaar, feelunique.com.

Die swanger koninklike het kompetisie soos Kate Moss, Victoria Beckham, Cara Delevingne en nog ’n swanger ster, Kim Kardashian, geklop.

Net minder as ’n derde van die mense (30 persent) wat ondervra is, het erken hulle boots Catherine, beter bekend as Kate, se voorkoms na. Kate Moss en Victoria was ’n kortkop agter die hertogin, met onderskeidelik 15 persent en 12 persent van Britte wat hul voorkoms naboots.

“Ons het eerstehands die Kate-effek op verkope van skoonheidsprodukte gesien,” sê Siobhan McDermott, ’n algemene bestuurder by feelunique.com. “Twee jaar gelede was blonde skakerings twee keer gewilder as bruiner skakerings. Maar kort ná die koninklike troue was daar ’n toename in bruiner skakerings, en veral Kate se kenmerkende natuurlike donkerbruin haarkleur. Dit is nou ons gewildste kleur en dit verkoop beter as die blonde skakerings.”

Jennifer Aniston het met agt persent haar voormalige aartsvyand in die liefde, Angelina Jolie (vyf persent), geklop, en die werklikheidstelevisiester Millie Mackintosh – wat verloof is aan die rapper Professor Green – en die aktrise Gwyneth Paltrow en Olivia Palermo het ook die top-10 gehaal.

Die 10 bekendes wat Britte se skoonheidsaankope die meeste beïnvloed, is:

1. Kate Middleton - 30%

2. Kate Moss - 15%

3. Victoria Beckham - 12%

4. Cara Delevingne - 11%

5. Kim Kardashian - 10%

6. Jennifer Aniston - 8%

7. Angelina Jolie - 5 %

8. Olivia Palermo - 4%

9. Millie Mackintosh - 3%

10. Gwyneth Paltrow - 2%