Catherine (31) het erken haar vier maande oue seun word groot en het geskerts oor hoe “veeleisend” babas kan wees, voor sy met ’n jong voormalige oortreder Aaron Russell-Andrews by die organisasie in Londen gesels het.

Catherine het ’n spesiale babapakkie vir Geroge by Aaron gekry, wie se 20 maande oue dogter, Teegan, die geskenk wou afvat by die hertogin, tot hul groot vermaak.

“Sy was baie in haar noppies daarmee,” volgens die Daily Mirror. “Sy het gesê dit sal hom goed pas, want hy groei vinnig en dat hy daarvan sal hou. Teegan het die babapakkie probeer terugvat, en Kate het toe gesê: ‘Hulle is baie veeleisend op hierdie ouderdom.’”

Aaron (22), deesdae ’n beroepsakteur, het sy lewe omgeswaai danksy Only Connect, wat werk met gevangenes, voormalige oortreders en jong mense wat die risiko loop om af te dwaal. “Die hertogin was baie in haar skik daarmee dat Only Connect my gehelp het om so ’n groot verandering in my lewe te maak en op die regte spoor te bly.”

Die hertog en hertogin van Cambridge het personeel ontmoet en mense wat die organisasie ondersteun het, asook groepe wat aanvullende projekte bestuur. “Dis wonderlik dat hulle ons op die skouer klop en ons lede gelukgewens het met hul werk en prestasies,” het Danny Kruger, die uitvoerende hoof van Only Connect, gesê. “Ek hoop dit beteken ons kan ons profiel uitbou en nog harder werk.”