Die jong koninklike paartjie, wat hul eerste seun, prins George, verlede Julie verwelkom het, het onlangs na die Britse platteland getrek en woon in ’n huis wat sy ouma koningin Elizabeth II prins William twee jaar gelede vir sy 30ste verjaardag geskenk gegee het.

Anmer Hall is in Norfolk aan Engeland se ooskus. William en Catherine gaan vermoedelik twee jaar daar woon.

“Kate en William is in hul hart plattelanders. Terwyl hul tuiste in Londen hul basis gaan wees wat koninklike pligte betref, wil hulle hul gesin in Norfolk grootmaak,” het iemand in die binnekring aan die Britse tydskrif Grazia onthul.

Dit is onlangs bekendgemaak dat die 32-jarige William helikoptervlieënier vir die Oos-Anglia-lugambulansdiens gaan wees. Hy gaan volgende jaar daar begin werk; dit is naby Anmer Hall geleë.

William en sy jongste broer, Harry, het ook as kinders baie tyd daar deurgebring.

“Dit is waar William sy vormingsjare deurgebring het. Dit is waar hy op sy gelukkigste is; dit maak dus sin,” het die bron bygevoeg.

“Die paartjie gaan in hul tyd daar nog ’n hond kry en gaan hopelik nog ’n baba hê. Wanneer die twee jaar verby is, gaan hulle die week in Londen deurbring, waar George skool sal bywoon, maar hulle gaan naweke in Norfolk deurbring, wat hulle toelaat om ’n normale gesinslewe te hê.”

Die paartjie het ’n groot vriendekring wat naby die herehuis woon, wat ook kinders van hul eie het.

Catherine (32) is ook oënskynlik ingenome met die ontspanne atmosfeer.

“William het as kind baie tyd in Norfolk deurgebring en het baie vriende daar. Al sy ou vriende het jong kinders wat perfekte speelmaats vir prins George gaan wees. Die gebied is baie gesellig en Kate is dol oor die leefstyl in Norfolk,” het die bron gesê.

© Cover Media