Herschelle Gibbs en sy meisie, Sherrin Davie, het uitgemaak. Sherrin het dit eksklusief aan Huisgenoot onthul. [caption id="attachment_89387" align="aligncenter" width="600"]FOTO: Facebook FOTO: Facebook[/caption] Sy sê hul paadjies het geskei voor die voormalige Protea-krieketspeler oor die naweek na bewering weens dronkbestuur in hegtenis geneem is. Volgens berigte het Herschelle (40) dalk gejaag toe hy Sondagaand in Kampsbaai met ’n ander motor bots. Hy moet op 25 November volgende jaar in die hof verskyn. Herschelle en Sherrin het in Februarie verlede jaar begin uitgaan en is by baie sosiale geleenthede saam gesien. “Ek het die verhouding beëindig en gaan aan met my lewe,” sê Sherrin.

“Ek skat die verhouding het ’n punt bereik waar dit nie meer gesond was nie. So moeilik soos dit is, moet jy jou eerste stel en die regte besluit neem vir jou eie toekomstige geluk en emosionele stabiliteit, en die ander persoon die beste toewens,” het sy gesê.

Maandag het Herschelle die volgende op se Instagram-blad gesê: “Ydelheid, seks en vernietiging. Jy eet dit alles op omdat iemand jou vertel dat dit lekker smaak.”

Net ’n dag vroeër – die dieselfde dag van sy beweerde inhegtenisname – het hy ’n foto geplaas van hom by die Kampsbaai-kuierplek Café Caprice. Toe skryf een van sy aanhangers: “Eisj, jy wil net die somer geniet en dan wil die polisie jou pret bederf!” Herschelle antwoord toe: “Nee wat, dit was my eie skuld.”

EKSTRA BRONNE: CITYPRESS.CO.ZA, SABC.CO.ZA, SPORT24.CO.ZA