In 2004 het ek ook hierdie tonnels aangedurf en soos Alice in Wonderland in ’n gat af geglip na ’n wonderwêreld onder die strate van Kaapstad. Water vloei hier van Plattekloof af teen Tafelberg waar dit ontspring onder die Kasteel deur en tot in die see.

Maar daardie toer was deur ’n ander maatskappy gereël. ’n Uur en ’n half lank het ons deur hierdie tonnel van sowat 2 km gestap en weer by die Kasteel uitgeklim. Dit was ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie, maar om al die regte redes, omdat ek gevoel het soos ’n avonturier wat iets verborge van die res van die samelewing verken.

Foto: Argief

Maar dit was nie dieselfde ervaring wat ’n groep ouers en kinders die naweek in die tonnels gehad het nie.

“Ek wil nie in ’n geveg in die openbaar betrokke raak nie, maar ek hou by my storie. Ons weet wat gebeur het. Jongmense in hul dertigs is deur die waterstrome. Dan weet jy moes hoe sterk dit was,” het die bekommerde ma, Elizma de Jager, aan Huisgenoot gesê.

Sy het Saterdag ’n benoude e-pos gestuur: “Ek en my seun was op toer. Daar was ses- en sewejarige seuntjies saam wat op ’n partytjie was. Twee ma’s en seuns het weggespoel. Ons was regtig amper dood. Daar was 25 mense op die toer,” het sy toe geskryf.

Sy en haar sewejarige seuntjie was in die tonneltoer onder die Kasteel de Goede Hoop tussen 10:00 en 10:30. Daar was toe glo ’n skielike stortbui wat die fratsvloed veroorsaak het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê nooddiensbeamptes is omstreeks 11:45 na die toneel ontbied. Niemand was vermis nie. Die oorsaak van die fratsvloed is volgens hom nog onbekend. “Ons weet nog nie waar dit vandaan gekom het nie,” het hy aan Huisgenoot gesê.

“Daar was ligte skraap- en kneusbeserings en almal is op die toneel ontslaan. Een vrou is na ’n privaat hospitaal geneem om behandel te word, vermoedelik vir skok,” het Werner gesê. Die polisie was op die toneel om ’n ondersoek na die voorval te doen.

Dit kom nadat die uitvoerende hoof van die Kasteel se beheerraad, Calvin Gilfillan, aan Netwerk24 gesê het die stroom water wat glo ’n groep mense in die tonnels “meegesleur” het, was net sowat 50 cm diep. 

Ons was regtig amper dood.

Die toergids, Matt Weisse van Good Hope Adventures, het Saterdagoggend seker gemaak die watervlak is nie te diep voor hy die groepie by die tonnel laat inklim het nie, het Calvin gesê.

Weisse het nie op oproepe gereageer nie. Sy verslag ná die voorval lui volgens Calvin dat die watervlak met hul aankoms net sowat 10 cm diep was. Hy het ook na die weerverslag gekyk en geen gevaartekens gesien nie.

’n Ander toergids wat aan Tafelberg se kant van die tonnels was, het na bewering die water sien kom en geskree om die groep te waarsku. Die groep het glo paniekerig geraak en geval en dis toe hulle meegesleur is.

“Al wat ek wou doen, is om bewusmaking te skep en die seuntjies in die groep vir hul dapperheid te prys,” sê Elizma vandag. “Ek hou by wat ek gesê het.”

Tygerburger het Maandag berig Elizma het vertel hoe hulle in ’n stadium die boodskap gekry het dat hulle moet terugdraai, maar die water was toe so sterk dat ’n mens skaars die mens langs jou kon hoor.

Elizma sê hulle was vreesbevange. “Die kinders het begin gil en die mense het paniekerig geraak.” Die ouers het die seuns in hul arms opgetel en met hulle geloop, maar selfs dit het moeilik geword met die stroom wat teen hulle beur.

Skielik het die stroom so sterk geword dat mense omgegooi en meegesleur is.

Eindelik het iemand ’n mangat naby hulle oopgemaak en is hulle gered.