In ’n voorval wat ’n herrie op Twitter veroorsaak het, kon ’n 10-jarige meisie nie in ’n spanbroek op haar vliegtuig klim nie.

Die onbekende dogtertjie kon nie Sondagoggend op ’n vliegtuig van United Airlines klim wat van Denver na Minneapolis op pad was nie, want sy is deur amptenare voorgekeer en vertel haar kleredrag is ‘onbetaamlik’.

Die mense wat dit aanskou het, het Twitter ingespan om uitdrukking te gee aan hul griewe. " ’n 10-jarige meisie in ’n grys spanbroek. Sy het normaal en geskik gelyk. Blykbaar kontroleer @united meisies en vrouens se klere," sê een Twitter-gebruiker.

"Absoluut absurd! Geen vrou moet ’n rok oor haar spanbroek aantrek nie, maar ’n 10-JARIGE?" vra ’n ander een.

Twee ander meisies is, volgens The Washington Post, ook as gevolg van hul broekkeuse nie op die vliegtuig toegelaat nie. Hulle het albei spanbroeke aangehad.

Shannon Watts, ’n passasier op die vliegtuig, het gehoor wat met die gesin wat langs haar gebeur. Die vroulike beampte het, volgens Watts, aan die jong meisies gesê hulle kon nie met spanbroeke op die vliegtuig klim nie.

“Ek maak nie die reëls nie, ek pas hulle net toe,” het sy, volgens Watts, gesê.

Die 10-jarige met die grys spanbroek het ’n rok uit haar rugsak gehaal en dit bo-oor haar spanbroek aangetrek. Die ander twee meisies het egter nie ekstra klere byderhand gehad nie en moes toe omdraai.

“Ek dink hierdie beleid is eiemagtig en seksisties. Dit sonder vroue uit oor hul kleredrag en dit kenmerk jong dogtertjies seksueel,” het Watts ná die voorval gesê.

Die lugvaartmaatskappy het met ’n uittreksel uit hul beleid op die twiet gereageer, "Ingevolge ons vervoerkontrak, reël 21, word die reg voorbehou om vervoer vir passassiers te weier."  

Daarna het hulle dieselfde sin verskeie kere gekopieer en geplak in antwoord op ander Twitter-gebruikers se kommentaar.

Die lugredery het later uitgebrei op die voorvalle deur te sê die meisies was reisigers met passe en het nie die gewone kaartjies gehad nie – reisigers met passe is blykbaar gesinne van werknemers van United of United self en hulle word slegs op ’n vlug toegelaat indien daar plek beskikbaar is.

 

 

Die maatskappy se verklaring het egter nie die mense van stryk af gebring nie.

Een van hulle se kommentaar was: “Niemand sou in werklikheid die verskil tussen reisigers met ’n pas en gewone reisigers opgemerk het nie.”

Die maatskappy het later getwiet dat kliënte wel spanbroeke mag dra, maar verder moet lees oor die maatskappy se pasvoorreg.

Bronne: thewashingtonpost.com, metro.co.uk