Ligter op die sak

Die voor die hand liggendste rede vir enige ma om die lapdoek te oorweeg, is die lae koste vergeleke met weggooidoeke. Al is die koste van die doeke redelik hoog (die tyd en moeite verbonde aan die skoonmaak daarvan moet ook in ag geneem word), gaan dit oor die lang termyn minder kos as weggooidoeke. Vir nuwe ma’s wat nie ’n idee het oor wat om te verwag nie, het fancypantsproducts.com ’n sakrekenaar om die koste te help bereken.

Dit is omgewingsvriendelik

Moontlik die oortuigendste rede vir lapdoeke gebruik is die verwoestende effek van weggooidoeke op die omgewing. Het jy al ooit gewonder waarheen jou baba se vuil doeke gaan nadat jy dit in die vuilgoeddrom gegooi het? Weggooidoeke is nie ontwerp om herwinbaar te wees nie; dit word van verskeie materiale gemaak en is met menslike afval besmet. Al is daar al pogings aangewend om weggooidoeke te herwin, was dit nie baie suksesvol nie. Die kanse is goed dat jou baba se vuil weggooidoeke jare op ’n stortingsterrein gaan lê. ’n Deursnee-baba gebruik van geboorte tot toiletopleiding sowat 7 000 doeke. As die idee van 7 000 weggooidoeke op ’n stortingsterrein jou ongemaklik maak, is lapdoeke die perfekte opsie vir jou.

Dis funksioneel en oulik!

Die idee van lapdoeke wat ure se was, spoel en week benodig, is wat die meeste ma’s ontmoedig om dit te gebruik. Maar die handdoekstof-doeke van destyds is iets van die verlede. Vandag se lapdoeke is ontwerp om funksioneel te wees en maklik skoon te kom. Jy kan eenvoudig enige ekstra afval afskud (of die voering uithaal as jy dit gebruik) en dit in ’n plastiekemmer week tot daar genoeg doeke is vir ’n was. Dit is dan gereed vir die wasmasjien. Maak net seker dit word twee keer gespoel om seker te maak alle reiniger is afgespoel. Lapdoeke kom ook nou in ’n verskeidenheid kleure en patrone; dit word ook so ontwerp dat dit geensins jou baba se beweging inperk nie.

Besoek die volgende webtuistes vir ’n keuse van lapdoeke beskikbaar in Suid-Afrika: doodlebums.co.za, snugglybum.co.za en fancypantsproducts.co.za.

- Lindsay de Freitas

Bronne: fancypantsproducts.co.za, rcbc.ca, consumer.healthday.com, parents.com