Al woon jy waar, sal daar waarskynlik ’n gids wees met alles wat jy in jou omgewing kan sien en doen saam met jou kinders oor naweke. Neem inisiatief en nooi vriende saam na ’n groep se optrede of ’n koel teaterstuk of gaan op avontuur-uitstappies soos knortjor ry of verfbal skiet. Hier is nog ’n paar idees.

Om ’n tuin aan te plant is nie iets net vir bejaardes nie. Maak ’n stuk grond in die agterplaas skoon en koop groente, bolle, kruie of mooi blomme. Plant dit daar en kyk saam hoe hulle groei.

Leer ’n nuwe taal. Dis ’n wonderlike manier om die tyd te verdryf saam met jou tiener én iets nuuts te leer. Jy kan ’n pakket met ’n taalboek en CD by die meeste winkels koop en ook klasse bywoon. Hoe lekker sal dit nie wees as julle Frankryk eendag saam besoek en jul kos in Frans kan bestel nie?

Huur ’n hele seisoen van julle gunsteling-televisiereeks. Krul op en geniet jul gunsteling kykstof saam.

Verbeter jou lewensvaardighede. Kyk watter interessante kursusse alles in jou omgewing aangebied word soos noodhulp of mond-tot-mond-asemhaling. Of wat van ’n kursus oor hoe jy met jou geld moet werk? Dit alles kan jou en jou kind se lewens verryk.

Te min geld? Hou n uitruilpartytjie: Soek ou DVD’s, CD’s en klere uit waarvan julle ontslae wil raak, en vra jul vriende om dieselfde te doen. Dan kan julle lekker uitruil!

Hou jou eie rolprentfees: Nooi jou kind se vriende oor en vra hulle moet elkeen hul gunsteling-DVD’s saambring. Berei heerlike peuselhappies voor en skuif reg vir ’n baie gesellige dag.

Leer nuwe vaardighede Anders as wanneer jy ’n nuwe taal wil aanleer, kos dit niks om jouself ’n  nuwe vaardigheid te leer nie. Waarom probeer julle nie kaarttruuks of towerkuns onder die knie kry  nie? Of leer sokker of poker speel.

Bied jou hulp gratis aan by ’n verpleeginrigting, hospitaal, diereskuiling, dagsorgsentrum of biblioteek.

Geniet mekaar se geselskap: Ontspan en gesels sommer net ‘n slag oor ditjies en datjie!