Wie sal ooit die oomblik kan vergeet toe Joel Stransky in die 1995-Wêreldbeker-rugbytoernooi die bal tussen die pale deur geskop het en die land in al sy glorie herenig is.

’n Mens kan net dink hoe spesiaal dit gaan wees wanneer die einste span 21 jaar later op 23 Junie 2016 weer sal saamkuier in aantog tot die amptelike opening in November van die South African Sport Hall of Fame in Sun City.

“Ons gaan die dag herleef met die sing van World in Union deur PJ Powers,” sê Johnny Burger van die SA Sports Hall of Fame. “Ons gaan hoogtepunte van elke speler wys, hulle gaan hul ervarings van daardie dag in 1995 deel en ons gaan hulde bring aan oudpres. Nelson Mandela, Kitch Christie en Ruben Kruger wat nie meer met ons is nie.

“Dit gaan ’n emosionele aand vir almal wees.”

Johnny sê die spesifieke Wêreldbekerwedstryd was sekerlik Suid-Afrika se grootste wen ooit en op daardie dag was almal kleurblind. “Dit is belangrik om daardie dag vir ons toekomstige geslagte te bewaar.”

Lees ook: Oud-Bokkaptein hang sy ‘tokse’ op

Die span sal die volgende dag ook almal saam gaan gholf speel.

SA Sports Hall of Fame is interaktief en verteenwoordig 32 verskillende soorte sport en is enig in sy soort in Suid-Afrika. Mense sal al hul sintuie gebruik wanneer hulle dit besoek, sê Johnny.

“Jy sal byvoorbeeld teen Bryan Habana kan kragte meet deur teen hom te hardloop op ’n video wat op ’n muur geprojekteer word en jy sal teen sterre soos Louis Oosthuizen en Ernie Els deur middel van ’n simulator kan gholf speel." Besoekers sal ook goed soos die Haka deur virtuele werklikheid kan beleef terwyl die reuk van gras deur ventilators gespuit word.

Volgens Johnny het hulle besluit om die sentrum in Sun City te open sodat mense oor die land daartoe toegang kan kry en van die grootste oomblikke in die Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis kan beleef.

“Dit is belangrik om ons allerbeste sporthelde te vereer, terwyl ons geleenthede skep vir toekomstige helde. Helde is inspirasie, veral as jy op ’n interaktiewe manier teen hulle kan kragte meet.”

rugbygees

Lede van die publiek wat die openingsaand op 23 Junie wil bywoon, kan kaartjies vir die geleentheid direk by Johnny koop

Lees ook op Huisgenoot:

Oud-Bokkaptein hang sy ‘tokse’ op

Dié wetenskaplikes versorg Wladimir Lenin se gebalsemde lyk teen R3 miljoen per jaar!

Suid-Afrikaanse perdebyspesie na Hollywood-ster vernoem

‘Dronk’ bestuurder gevang wat nege vriende in Citi Golf druk