Ruben Scharneck (6), die jong kankerlyertjie van Pretoria wat die naweek oorlede is, se pa het Maandagoggend gesê die gesin wens nou vir genade en vrede.

[caption id="attachment_161157" align="alignnone" width="600"]Ruben is Saterdag oorlede. Foto: Verskaf Ruben is Saterdag oorlede. Foto: Verskaf[/caption]

Volgens André doen die familie "orraait" onder die omstandighede. Ruben is Saterdag na ’n jare lange stryd teen ’n hoërisiko-neuroblastoom oorlede. Hy is in 2014 daarmee gediagnoseer.

Huisgenoot het onlangs berig oor Ruben se droom om skool toe te gaan. Weens sy gesondheid het die jong seun eindelik net een dag saam met sy graadeenmaats in Laerskool Menlopark op die skoolbanke deurgebring.

Afrikaans Hoër Seunsskool, ook in Pretoria, het Maandag hul vlag halfmas laat hang ter nagedagtenis aan Ruben. Sy hartseer verhaal het talle Pretorianers aangegryp.

Op ’n vraag oor die ondersteuning wat die familie ontvang na Ruben se afsterwe, het André (47) gesê mense staan saam met die familie.

ruben-collage
Die Scharnecks is tans op soek na ’n geskikte kerkgebou waaruit Ruben hierdie komende Saterdag begrawe kan word. Hulle het beluit om hom te laat veras.

"Ons het vrede," sê André voorts. "Ruben het sy lewe voluit geleef."

Die sesjarige was in ’n rolstoel gekluister sedert ’n week voor Kersfees. Sy wilskrag om vanjaar op die skoolbanke te sit, het talle mense aangegryp.

Tydens ’n onlangse besoek aan die Scharneck-woning het Ruben aan Huisgenoot vertel hoe hy op sy enigste dag by die skool geleer het om die woord "nuus" te skryf. Hy het ook daai dag ’n prentjie van hom en sy broer, Rossouw (12), geteken.

[caption id="attachment_161155" align="alignnone" width="580"]Ruben en sy ma, Marinda. Foto: Verskaf Ruben en sy ma, Marinda. Foto: Verskaf[/caption]

Sy ma, Marinda (38), was daardie dag aan die einde van Januarie saam met hom skool toe. Hoewel hy bitter graag weer wou gaan, was sy lyfie eenvoudig nie sterk genoeg nie.

Ruben word deur sy ma, pa en broer oorleef.