Henri van Breda, wat teregstaan op die moord op sy ouers en broer, sal Vrydag weer in die Kaapse hooggeregshof verskyn.

Henri word daarvan aangekla dat hy sy pa, Martin (54), ma, Teresa (55) en broer, Rudi (22), die aand van 26 Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch met ’n byl of soortgelyke skerp voorwerp doodgekap het.

Hy word ook daarvan aangekla dat hy sy suster, Marli (17), dieselfde aand met ’n byl aangeval het. Sy het dié aanval oorleef.

Vrydag se verskyning is deel van die voorverhoor voor die aanvang van Henri se strafsaak op 6 Februarie 2017.

“Die doel van ’n voorverhoor is om vas te stel of die onderskeie partye in die saak gereed is vir die verhoor,” verduidelik Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag. Volgens Eric is dit nog nie duidelik wat presies môre in die hof gaan gebeur nie.

“Die staat sal byvoorbeeld in die hof sê hoe die ondersoek vorder, of getuies beskikbaar is, of daar tolke nodig sal wees en of die uitslae van forensiese verslae reeds beskikbaar is of wanneer dit beskikbaar sal wees.”

Volgens Eric gee ’n voorverhoor ook vir die verdediging ’n kans om te sê of hulle getuies gaan roep.

“As al die partye aandui dat hulle gereed is vir die verhoor, word ’n datum vir die verhoor bepaal. As ’n datum nog nie vasgestel kan word nie, word ’n voorlopige datum bepaal, onderhewig aan die dinge wat nog afgehandel moet word.”

Volgens Eric sal geen getuies tydens dié proses getuig nie. “Dit is net ’n proses om vas te stel hoe gereed al die betrokkenes is.”