Die vermeende bylmoordenaar Henri van Breda en sy meisie, Daniella Janse van Rensburg, is vandeesweek in hegtenis geneem nadat albei met dwelms in hul besit betrap is.

[caption id="attachment_136338" align="alignnone" width="600"]Henri onderweg na die beskuldigde bank. Foto: Misha Jordaan Henri onderweg na die beskuldigde bank.
Foto: Misha Jordaan[/caption]

Hierdie inligting het aan die lig gekom enkele ure nadat Henri in die Kaapstadse hooggeregshof verskyn het vir die driedubbele moord op sy familielede.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig die twee beskuldigdes het vandeesweek in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte vir die besit van dwelms.

Eric kon egter nie bevestig watter tipe dwelms in die paartjie se besit was nie, maar gerugte is dit eens dat dit dagga was.

“Die polisie het albei die nag in die aanhoudingselle gehou. Nadat hulle in die hof verskyn het, is hulle op borgtog vrygelaat," het Eric aan Huisgenoot gesê. Henri se borgtog het R1 000 beloop terwyl Daniella R200 moes opdok.

Die saak is tot 12 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.

Die paartjie het vroëer vanjaar ontmoet terwyl hulle by ’n sjefskool in Soutrivier in Kaapstad studeer het. Sedertdien lyk hulle heel verlief op foto’s wat Daniella gereeld op haar Facebook-blad plaas.

[caption id="attachment_136236" align="alignnone" width="600"]Henri en sy meisie, Daniella, op 'n Kaapse strand. Foto: Facebook Henri en sy meisie, Daniella, op 'n Kaapse strand. Foto: Facebook[/caption]

Tydens Vrydag se hofverigtinge het die staat regter Elize Steyn versoek dat die saak tot 18 November uitgestel word sodat forensiese DNS-verslae afgehandel kan word. Henri bly uit op borgtog tot die voorverhoor op 18 November hervat word.

Sy amptelike verhoor begin op 6 Februarie volgende jaar.