Die beskuldigde in die bylmoordsaak, Henri van Breda, het Woensdagoggend in die landdroshof in Kaapstad saam met sy meisie, Danielle Janse van Rensburg, verskyn.

Die twee staan tereg op aanklag van dwelmbesit nadat hulle sowat 'n maand gelede met dagga in haar motor betrap is.

Die staat het gevra dat die saak uitgestel word sodat hulle deur papierwerk kan werk wat hulle eers Dinsdag ontvang het.

Henri, netjies geklee in 'n blou baadjie en grys broek, is vergesel deur die prokureur wat hom ook in die Bylmoord-saak verteenwoordig, Lorinda van Niekerk.

Danielle het 'n ander regsverteenoordiger gehad. Danielle het 'n wit bloesie en potloodromp aangehad. Haar donker hare is ook meer blond gekleur.

Albei se saak is tot 19 Oktober uitgestel.

Henri is ook weer op 18 November terug in die hooggeregshof in Kaapstad in verband met die bylmoord op sy ouers, Martin en Theresa en sy broer, Rudi, sowel as die poging tot moord op sy suster, Marli, vroeg in 2015 in Stellenbosch. Hy staan ook tereg op een aanklag van regsverydeling.