Hy is al vir meer as twee jaar skerp onder die media-soeklig en brand om sy kant van die saak te stel, maar as sy regsverteenwoordiger kan hy hom nie toelaat om dit te doen terwyl hul nog inligting van die staat soek nie. Só het adv. Pieter Botha, wat Henri van Breda se regspan lei, vandag in die Kaapse hooggeregshof gesê.

 

Geklee in 'n deftige grys pak met sy lang, krullerige bruin hare agtertoe gekam het Henri (22) vandag sy plek in die beskuldigdebank van hof 2 in die Kaapse hooggeregshof ingeneem.

Hy het stip voor hom gekyk en nou en dan na die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, geloer terwyl sy aangevoer het dat die staat gereed was om met die saak te begin en ook na Pieter gekyk toe hy die hof meegedeel het dat die verdediging nog op dokumentasie en inligting van die staat wag en die moordsaak eerder wil uitstel tot 24 April.

Henri staan tereg op die driedubbele moord van sy ma Teresa (55), pa Martin (54) en ouboet Rudi (22) na dié drie in die vroeë oggendure van 27 Januarie met 'n byl in hul spoghuis in die gholflandgoed De Zalze buite Stellenbosch afgemaai is.

Die voormalige sjefstudent word ook aangekla van poging tot moord op sy suster, Marli (17), wat erge kopbeserings in die bylaanval opgedoen het en 'n bykomende klag van regsverydeling.

Nie Henri se meisie, Daniellé Janse van Rensburg, of enige ander familielede van die vermeende bylmoordenaar was in die hof om hom te ondersteun nie. Sy regspan het hom vinnig in en uit die hof geneem terwyl hordes fotograwe probeer het om foto's van die lang jong man te neem.

Henri was veronderstel om vandag sy pleitverduideliking te gee, maar sal dit nou eers doen wanneer die saak aan die einde van April hervat.

Die staat het beplan om vandag hul eerste getuie te roep en môre sou 'n ondersoek ter plaatse by die moordhuis in Goskestraat in De Zalze plaasvind, maar regter Siraj Desai het die aansoek om uitstel toegestaan.

Die regter het wel gewaarsku dat dit die hof se plig is om die publiek se vertroue in die regstelsel te handhaaf en dat hy as regter als in sy vermoë sal doen om nie hul vertroue te skend nie.

Die regspanne moes hul onderneming gee dat verdere hindernisse nie die saak verder sou belemmer wanneer dit op 24 April hervat nie.