Marli van Breda, wat verlede jaar ’n bylaanval op haar gesin oorleef het, is bewus daarvan dat haar broer Henri in aanhouding is vir die moord op hul ma, pa en broer. “Dit is te verstane dat dit uiters ontstellende nuus is vir Marli,” het haar regsverteenwoordiger en kurator, adv. Louise Buikman, Dinsdag aan News24 gesê. "Die familie wil hê geregtigheid moet geskied.” Henri (21) is beveel om Maandagmiddag by die polisiekantoor op Stellenbosch aan te meld. Lt.kol. André Traut sê hul ondersoek het hulle gelei tot die inhegtenisname van ’n man wat “hom om 15:30 by die polisiekantoor op Stellenbosch oorgegee het”. Hy het Dinsdag in die landdroshof op Stellenbosch verskyn, waar drie aanklagte van moord en een van poging tot moord hom in die gesig staar.

Hy is op borgtog van R100,000 vrygelaat.

Henri is meer as ’n jaar ná die aanval by hul gesinshuis op die luukse gholflandgoed De Zalze by Stellenbosch in hegtenis geneem. Sy ouers, Teresa en Martin, en broer, Rudi, het omgekom en sy suster, Marli, se lewe het aan ’n draadjie gehang. Sy het eindelik herstel.

Louise het nie gereageer op vrae oor hoe Marli se herstel vorder en of sy nog aan retrograde geheueverlies ly nie. Sy het gesê die familie het “versoek dat die media die situasie sensitief benader en Marli se privaatheid in ooreenstemming met die hooggeregshofbevel respekteer.”

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het ’n jaar gelede beslis Marli moet in haar oom en tante se sorg geplaas word. Regter Siraj Desai het ook gelas dat sy nie sonder Louise se toestemming afgeneem word of media-onderhoude mag toestaan nie.

Louise het toe bevestig dat Marli en Henri kontak het.

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

Barry Steenkamp: ‘Oscar (Pistorius) moet betaal vir wat hy gedoen het’

Hipster 60-jarige model slaan ’n bres vir die ouer geslag!

‘Ek is nie ’n rassis nie,’ bieg Penny Sparrow in ope brief

Visserskuit trek onverwagse ‘vangs’ uit die see