Ena Jones sê haar bloed het begin kook toe sy die koerant optel en sien Oscar Pistorius is onlangs toegelaat om sy ouma se begrafnis by te woon.

“Dit is nie regverdig nie,” sê Ena, André Gouws se tannie.

André is in 2013 saam met die voormalige Nigeriese Olimpiese atleet Ambrose Monye skuldig bevind aan die moord op Nico Henning se 26-jarige vrou, Chanélle. Hy dien sedertdien ’n vonnis van lewenslange tronkstraf uit.

André se 73-jarige ma, Lenie Gouws, is verlede jaar in Mei oorlede.

“Weet jy hoe ons gaan soebat het? Ons was by die regte mense in Pretoria.

“Ons het ’n formele brief geskryf en ons het vorms ingevul, maar hulle het net gesê die antwoord is nee,” vertel ’n ontstelde Ena.

André se suster, wat gevra het dat haar naam nie genoem word nie, sê sy moes talle vorms invul en dokumente verskaf om aansoek te doen dat André by die begrafnis kon wees.

Hy is aanvanklik in die Kgosi Mampuru II-gevangenis aangehou, maar is intussen na die Zonderwater-gevangenis op Cullinan geskuif.

“Twee dae voor die begrafnis het hulle (korrektiewe dienste) my laat weet die aansoek is van die hand gewys en dat André by die begrafnisonderneming afskeid moet neem. Ons moes in Avbob se ontvangs ’n klein begrafnis hou,” sê sy.

Net daar in die ingangsportaal, terwyl telefone op die agtergrond gelui het, moes sy op ’n skootrekenaar vir ’n emosionele André die video’s en foto’s wys wat by die begrafnis vertoon sou word.

“André was nog altyd my ma se blue-eyed boy. Almal het dit geweet. En met die hofsaak was sy elke dag daar. Ek het haar sesuur in die oggend, op pad werk toe, by die hof afgelaai en haar weer sesuur die aand opgelaai.”

Sy sê André was ook baie ontsteld toe hy onlangs van Oscar se “voorreg” hoor.

Volgens Ena is ’n kort video waarin ’n hartseer André sy ma groet by die begrafnis vertoon.

“Hy het verskriklik gehuil. Hy kon skaars praat. Hy het so gesnik en gesê hy is in sy siel en hart by sy ma.”

André se suster sê dit was vir haar ook baie erg dat haar broer nie by hul ma se begrafnis kon wees nie.

’n Gevangene word toegelaat om ’n direkte familielid se begrafnis by te woon as hy of sy ’n lae-risiko-gevangene is, verduidelik Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste.

Volgens Manelisi kan die hoof van die korrektiewe sentrum ook sy diskresie gebruik op grond van die gedrag van die aansoeker.

Manelisi het nog nie op navrae oor André se geval gereageer nie.