[caption id="attachment_151621" align="alignnone" width="600"]Monica Annandale (Foto: Verskaf) Monica Annandale (Foto: Verskaf)[/caption]

Monica, stigter van Solidariteit Helpende Hand se tak op Thabazimbi, is Saterdagoggend in ’n motorongeluk tussen dié dorp in Limpopo en Ellisras dood.

Haar dood volg net ’n dag ná die dood van twee kinders van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

André (13) en Rachel (8) Brink het op die toneel gesterf nadat die gesin se voertuig die pad verlaat en verskeie kere gerol het. Die ongeluk het net buite Theunissen in die Vrystaat plaasgevind.  Danie se vrou, Lize, is nog in ’n ernstige toestand in ’n Pretoriase hospitaal.

Johan (10), die Brinks se tweede oudste seun, is ook vir behandeling in die hospitaal opgeneem. Mieke (15) en Daniël (2) het ligte beserings opgedoen.

Marthie Spamer het op Facebook geskryf sy en Monica was 10 jaar deel van mekaar se lewe “in goeie en slegte tye. Jy was ’n ystervrou. Niks kon jou ooit onderkry nie,” skryf Marthie.

Ernst Vorster, woordvoerder van Helpende Hand, sê Monica was dié liefdadigheidsorganisasie se krag op Thabazimbi. Sy het een van die eerste takke in Limpopo gestig en was sewe jaar by die organisasie betrokke.

Soos hulle verstaan, sê Ernst, was Monica Saterdag op pad tussen Lephalale (Ellisras) en Thabazimbi toe die ongeluk gebeur. Sy het Saterdae ’n rommelverwyderingsonderneming op Lephalale bedryf.

Monica het na bewering vir ’n bok in die pad uitgeswaai en teen ’n betonversperring langs die pad gebots. Sy het later aan haar wonde beswyk.

“Jy kon net op haar foto’s sien hoe dierbaar sy was,” sê Ernst.

Marianthie van der Walt, Helpende Hand se streeksorganiseerder in Limpopo, sê ook Monica was werklik ’n ystervrou.

“Sy het ’n ongelooflike hart vir mense gehad,” sê Marianthie.

“Sy het mense uit haar eie sak uit gehelp. Sy sou haar eie kombuiskaste plunder om ander kos te gee. As sy geweet het van iemand wat swaarkry, wou sy net help. Sy wou nooit die eer of erkenning daarvoor hê nie. Sy het dit uit haar hart uit gedoen.”

Monica laat haar man, John, agter sowel, as drie dogters, Marzahne Dudley, Clementhy Annandale en Heather Annandale. Monica het ook drie kleinkinders.

Heather, wat in haar laat tienerjare is, is fisiek en verstandelik gestrem, sê Marianthie.

“Monica en John het Heather self versorg. Die gesin is so ongelooflik, wanneer een van hulle weggegaan het, het die ander een ingespring om na Heather te kyk. As Monica en John nie beskikbaar was nie, het Heather se sussies na haar omgesien,” sê Marianthie.