Anja* is ’n jong meisie wat moedeloos is omdat haar ma haar pal in die werk steek. Haar gesin het nie ’n huiswerker nie, en Anja se ma verwag van haar om die huis skoon te maak, te kook en die huisgesin ook emosioneel te ondersteun.

Haar suster kan na hartelus leeglê terwyl Anja, wat boonop ’n voltydse universiteitstudent is en liefdadigheidswerk doen, al die huishoudelike take moet verrig en geen tyd vir haarself het nie.

Anja is raadop, en weet nie hoe om die gesprek met haar ma te benader nie. Sy wil ook graag ’n hegter band met haar ma smee en gehaltetyd met haar gesin kan deurbring.

Stephanie Dawson Cosser, ’n gesinsberader van Johannesburg, sê die wortel tot Anja se verwyt lê in die gesinsdinamika wat versteur is omdat die gesin nie meer ’n huiswerker het nie.

“Anja se ontevredenheid met haar gesinsdinamika spreek moontlik van haar dieper behoefte om ’n verhouding met haar ma te kweek,” sê Stephanie.

Sy gee die volgende raad oor hoe om die gesprek met haar ma te begin:

  • Stephanie stel voor dat Anja saam met haar ma en die res van die gesin sit en die probleem opper en bespreek.
  • Gebruik “ek”-stellings wanneer jy jou ervaring verduidelik, pleks van sê “Jy doen dit” of “Julle doen dit.” Deur dit uit haar perspektief te verduidelik en “ek” te gebruik, sal hulle minder veroordelend voorkom en kan haar ma en gesin insien hoe sy die situasie ervaar.
  • Anja moet ook bereid wees om na haar ma se standpunte en mening te luister. “Haar ma kan moontlik redes hê waarom die huisgesin nie meer ’n huiswerker het nie,” sê Stephanie.
  • Anja moet ook onthou die res van haar gesin dra moontlik by op ander wyses, waarvan Anja nie noodwendig bewus is nie.
  • “Pleks van net met die probleem na haar ma toe gaan, kan Anja ook met oplossings vorendag kom,” sê Stephanie. Dit sal die gesprek makliker maak as Anja iets voorstel, soos ’n rooster waarop elke lid van die gesin ’n beurt kry om te kook of skoon te maak.

Stephanie gee ook hierdie raad aan ma’s oor die fyn lyn tussen jou kinders die waarde van harde werk leer en hulle soos slawe laat voel.

  • Sluit jou kinders van kleins af in by huishoudelike take,sodat hulle gewoond raak aan verantwoordelikheid en hul kant bring.
  • Wys jou kinders jy waardeer hul harde werk. “Wanneer kinders sien hulle werk word waardeer, sal hulle aangemoedig word om dit weer te doen omdat hulle voel hul bydrae is belangrik.”
  • Om te keer dat hulle sekere kinders voortrek en ander toelaat om slap te lê, moet ma’s onthou alle kinders het ’n behoefte aan liefde en erkenning. “Gee ouderdomsverwante opdragte aan jou kinders en gun jou kinders meer voorregte namate hulle ouer en meer volwasse raak.”

- Mieke Vlok