Dit ruik lekker, het sy eers gedink, en toe: Ek wonder hoe dit proe? Lizzie Foster was sewe maande swanger met haar dogter, Ruby, en haar vreemde hunkering na babapoeier het haar eers ietwat ontstel. Kort voor lank het sy ’n happie geneem.

“Ek het ’n bietjie daarvan op my hand uitgegooi . . . en daarvan gehou.

“Dit het effens seperig gesmaak en ek het meer daarvan geëet,” onthou die 25-jarige ma van Portsmouth, Engeland, oor die begin van haar eienaardige verslawing.

“Ek dink ek het dalk iets uit die poeier gekry wat ek in my dieet kortgekom het. Ek het gehoor sulke drange tydens swangerskap het iets met ’n vitamien D- of ystergebrek te make.”

Lizzie het gehoop sy sou ná Ruby se koms van haar gier ontslae wees. Maar watwou: Sy het voortgesmul aan die talkpoeier, gemaak van ’n mineraal met magnesium, silikon en suurstof as vernaamste elemente.

En agt jaar later, ná sowat 400 houers poeier, het sy nou na raming reeds amper ’n kwart ton daarvan verorber. Lizzie draf steeds omtrent weekliks ’n 500 g-houer kaf.

“Ek eet dit heeltyd, byvoorbeeld met ontbyt en terwyl ek TV kyk. Ek neem ’n houer daarvan in my handsak werk toe – as ’n versnapering.

“Ek eet dit soos suursuiker (sherbet).”

Maar vanwaar dié vreemde gewoonte?

Lizzie ly vermoedelik aan die kompulsiewe afwyking pika, ’n onnatuurlike eetlus vir nievoedselstowwe soos ook sand, grond, baksteen, steenkool, papier of kryt.

Volgens Amerika se nasionale gesondheidsinstituut kan die talkmineraal giftig wees vir die liggaam as dit geëet of ingeasem word.

Asemhalingsprobleme, hoes en oogirritasie is van die algemeenste newe-effekte. Lae bloeddruk, stuiptrekkings, diarree, braking, borspyne en selfs longversaking kan ook voorkom. En mense wat talkpoeier ingekry of ingeasem het, word aangeraai om dadelik mediese hulp te soek.

Maar Lizzie kon desondanks nooit die versoeking weerstaan nie.

Sy sou sommer so tussen doeke aansit vir Ruby, en later vir haar seuntjie, Billy (2), van die poeier eet. Haar man, Dan, en Ruby het eers enkele jare gelede van haar gewoonte uitgevind. Die gesin was met vakansie en het TV gekyk toe die lus Lizzie pak.

“Ek het so daarna gesmag, ek het nie meer omgegee wat my gesin sou dink nie.” Moenie skrik nie, het sy getroos, en haar poeier uit haar handsak gegrawe . . . “Wat op aarde . . .?” was Dan se reaksie.

Sy’s ten minste nie bekommerd dat die kinders dalk later haar voorbeeld sal volg nie. As Ruby haar met haar poeier sien, sal sy tipies sug en uitroep: “Pappa, sy doen dit weer.”

Lizzie het onlangs ’n bietjie gehoes en maagkrampe gehad, maar is nie oortuig dit hou met haar gewoonte verband nie. Sy reken wel sy sal die poeier kan laat staan as sy seker is dis sleg vir haar.

Bronne: dailymail.co.uk, mirror.co.uk, nlm.nih.gov, express.co.uk, Facebook