Meer son op jou vel gedurende die somermaande beteken ook meer velirritasies. Dit is ook ’n ope uitnodiging aan allerhande gediertes wat onder jou vel wil kom inkruip. Prof. Maurice Kibel, Emeritus-Professor van Kindergesondheid aan die Universiteit van Kaapstad en die Rooi Kruis-Kinderhospitaal, gee ’n someroorlewingsgids wat klaarspeel met jeuk- en krapplekke.

Insekbyte

Insekbyte is lastig, maar net ernstig as die bytplek besmet raak weens ’n gekrap. Party kinders ontwikkel ’n sensitiewe reaksie bekend as papillêre urtikarie. Dit kom meer in die warm maande voor. Herhaalde vlooi- en partykeer weeluisbyte lei tot hipersensitiwiteit en ’n kwaai gejeuk van nuwe én ou bytplekke. Sekondêre besmetting, veral deur ’n bakterie, kom algemeen voor.

Behandeling

’n Blitsoorlog teen vlooie in die huis is noodsaaklik. Spuit matrasse en krake in die vloer met ’n goeie insekdoder. Buitekant is sandvlooie dikwels die sondaars. Gebruik kalamynsalf of koeksoda, met ’n bietjie water gemeng, om die gejeuk te verlig. Smeer krotamiton-room (Eurax) aan as die gejeuk ondraaglik is.

Bysteke

’n Bysteek is pynlik en die steekplek bly sowat twee dae rooi en opgeswel.

Behandeling

As die angel nog in die vel sigbaar is, moet dit versigtig met die stomp kant van ’n mes of kredietkaart uitgeskraap word. Moenie ’n tangetjie gebruik nie; die knypslag kan die laaste bietjie gif uitdruk. Om die steekplek te vryf, vererger net die gifverspreiding. ’n Koel lap of ysblokkie kan die pyn en swelsel help verlig, maar moenie vryf nie. Antihistamienroom of kalamynsalf sal ook help.

Rooi vlag

Partymense is allergies vir bysteke en kan urtikarie (’nopgehewe uitslag, ook bekend as netelroos) of selfs kwaai skok ontwikkel, asook ’n opgeswelde gesig en mond, moeilikeasemhaling en lomerigheid. As enige van dié simptome ná ’n bysteek verskyn, moet die kind dadelik dokter toegeneem word.

Adrenalienmiddels wat ingespuit of ingeasem word, kan vinnig verligting bring. Die kind moet daarna ’n armband dra wat sy allergie vir bysteke aandui, en ’n spuitnaald met adrenalien byderhand hou.

Bosluisbyte

Gewoonlik laat ’n bosluisbyt net ’n klein rooi kolletjie en soms ’n geswelde klier naby die bytplek, maar bosluise kan ’n paar siektes, soos bosluiskoors en selfs Krim-Kongokoors, versprei.

Behandeling

Haal die bosluis versigtig af sodat die kop nie agterbly nie. Smeer vooraf Vaseline of olie aan die bosluis, dan laat hy maklik los. Smeer Betadine-salf aan die bytplek. As jou kind koors kry nadat hy deur ’n bosluis gebyt is, moet ’n dokter seker maak dat hy nie bosluiskoors het nie.