Daar is seker niks moeilikers vir ’n moederhart as wanneer haar kind – of dit nou kleuter of tiener is – nie wil skool toe gaan nie. Onmiddellik flits vrae deur jou gedagtes: Word hy afgeknou? Is daar iets waarvan ek nie weet nie? Of waag sy dalk net ’n kans?

CP de Jager, ’n opvoedkundige en voorligting sielkundige van Vanderbijlpark, sê elke kind moet op eie meriete geëvalueer word. “Jonger kinders ervaar dikwels skeidingsangs, terwyl ouer kinders dalk te doen kan hê met ’n boelie of sukkel met skoolwerk waarvan die ouer nie weet nie. Dit is baie belangrik dat ouers met ’n kind daaroor praat, simpatiek is en nooit die kind dwing om skool toe te gaan nie.”

Hy sê met jonger kinders kan dit help om ’n bevorderlike ingesteldheid jeens die skool te skep. “Wees vrolik wanneer jy hom in die oggend aflaai, en stap saam met hom tot by sy klas. Dit is ’n goeie idee om die onderwyser te betrek. So sal jy bewus gemaak word daarvan as hy dalk skoolprobleme ervaar, soos spel- of leesprobleme.” Die onderwyser(es) sal dikwels ook raad hê vir die situasie en daarby word die onderwyser(es) minder van ’n vreemdeling as die kind sien die ouer het ’n goeie verhouding met hom of haar.

Met sowel ouer as jonger kinders is dit belangrik dat ouers op ’n gemaklike manier uitvra na hul dag. So kan jy te hore kom van dingetjies wat gebeur het of wat hom of haar dalk pla. Vra op ’n positiewe manier uit sodat jy ook die goeie stories hoor, want om positief oor die skool te gesels kan ook die kind perspektief help kry.

Laastens moet ouers ferm wees, sê CP. “Soek na die oorsaak van die probleem, maar wees ferm sodat die kind jou nie manipuleer nie.”

Vier stappe om vrees te oorkom

Kenners sê daar is vier stappe om oor ’n vrees te kom en dit kan ook vir kinders werk wat bang is vir skool.

1. Dra kennis van die vrees. Baie kinders wat iets soos skool vrees, kan nie presies sê wat dit is wat hul bang maak nie – hulle weet net dat die idee van skool toe gaan vreesaanjaend is. Die eerste stap is dus om jou kind te help om die ding wat hulle vrees, uit te ken. Is dit byvoorbeeld ’n verhouding met ’n onderwyser wat sleg is? Of dalk ’n spesifieke vak waarmee hulle sukkel? Of die vrees om weg te wees van ma af?

2. Ontwikkel selftroostegnieke. Die tweede stap, wat saam met ’n terapeut of sielkundige benader kan word, as dit nodig is, is om maniere te ontwikkel om jouself te kalmeer. By ’n kleuter kan dit iets eenvoudig wees, soos om sy gunstelingkombersie of pop byderhand te hou wanneer sy alleen moet skool toe gaan. By tieners kan dit asemhalingstegnieke wees.

3. Ontwikkel ’n hiërargie van gevreesde situasies of dinge. As die kind eers weet waarvoor hy bang is, kan hy ’n lys van dinge maak wat daarmee vereenselwig word. Vir ’n laerskoolkind wat skool vrees, kan dit byvoorbeeld wees: die maats, die juffrou, die skoolklere en die alleenwees. Sy is dalk die minste bang om haar skoolklere aan te trek, ’n bietjie banger vir die maats, bang vir die onderwyser, en baie bang om alleen te wees.

4. Maak afsonderlik werk van elke ding in die hiërargie. Byvoorbeeld: Begin deur skoolklere aan te trek. Ma kan dan dalk een van die maats oornooi om by die huis te kom speel. Daarna kan jou kind die onderwyser gaan ontmoet, en dan eers hoef hy die ding wat hy die meeste vrees, te konfronteer: alleen skool toe gaan. Teen die tyd dat hy by die skool kom, is dit reeds minder moeilik omdat hy reeds ’n paar van die goed wat daarmee saamgaan, oorkom het.

Ekstra bron: psychcentral.com